Dodetal in Guinee-ontploffing styg skerp

Rook borrel uit ‘n gebou in Bata, Ekwatoriaal-Guinee, na ‘n reeks ontploffings by ‘n weermagbasis die afgelope naweek. (Foto: TVGE/AFP)

Die dodetal ná verskeie ontploffings by ʼn weermagbasis in Ekwatoriaal-Guinee het nou tot 98 gestyg, terwyl minstens 615 mense gewond is, het Teodoro Nguema Obiang Mangue, die land se adjunkpresident, Dinsdag gesê.

Sondag se reeks ontploffings by die Nkoa Ntoma-weermagbasis aan die buitewyke van Bata, ʼn hawestad in die land, het ook geboue op die basis en talle huise in die woonbuurte rondom die kamp in puin gelê.

Die staatsbeheerde televisienuusdiens het tonele gewys wat herinner aan ʼn oorlogsone, met reddingswerkers en gewone burgers wat probeer om liggame uit die smeulende puin te haal.

Drie jong kinders is lewend uit een van die geboue gered en na ʼn hospitaal geneem.

In ʼn hospitaal in Bata het talle gewondes op die vloer gelê terwyl hulle noodhulp ontvang het.

Die reeks van vier ontploffings het Sondagmiddag plaasgevind en die kamp, wat onder meer lede van die spesiale magte en hul gesinne huisves, asook die omliggende buurte geruk.

Pres. Teodoro Obiang Nguema Mbasogo, wat dié klein land in sentraal-Afrika al 42 jaar lank regeer, het die skuld vir die voorval gepak op plaaslike boere wat stompe gebrand het, asook op “nalatige” toesig by die kamp se krygsdepot.

“My oom, ʼn offisier by die kamp, het vanoggend gebel om te sê hy het die liggame van vyf van sy familielede gevind. Hulle het heeltemal verbrand,” het ʼn inwoner op voorwaarde van anonimiteit gesê.

Nog ʼn inwoner het gesê hulle het nie ʼn oog toegemaak nie. “Die huise het heelaand gebrand en ons het deurlopend klein ontploffings gehoor. Niemand wat binne ʼn radius van tussen twee en vier kilometer van die ontploffingstoneel woon, is al toegelaat om terug te keer huis toe nie.”

Bata is die tuiste van 800 000 van Ekwatoriaal-Guinee se 1,4 miljoen inwoners. Die meeste van hulle leef in armoede, ondanks die land se groot olie- en gasrykdom.

Obiang het in ʼn verklaring gesê Bata was die slagoffer van nalatigheid deur die span wat veronderstel was om die pakstore met dinamiet, plofstof en krygstoerusting te bewaak.

“Dit het aan die brand geraak van vonke afkomstig van die stompe wat boere in die veld gebrand het – en dit het die reeks ontploffings veroorsaak.”

Volgens die departement van verdediging het die ontploffings skokgolwe veroorsaak wat verskeie huise in die omgewing verwoes het.

Ekwatoriaal-Guinee is die enigste land suid van die Sahara waar die inwoners Spaans praat, en een van die mees afgeslote. Obiang is die wêreld se langsdienende president en is sedert 1979 aan bewind. Hy het sy oom, Francisco Macias Nguema, in 1979 ontsetel en het hom voor ʼn vuurpeleton laat doodskiet.

Die president se seun, ʼn ywerige wêreldreisiger, is verantwoordelik vir die land se verdediging en sekuriteit.

Hy was Sondag op die toneel om die skade te bekyk – en is omring deur sy Israelse lyfwagte.

Teordorin, soos hy bekend staan, word toenemend beskou as die president se aangewese opvolger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.