Dodetal in Indonesië styg skerp

Brûe soos dié een wat in die slag gebly het, bemoeilik reddingspogings ná die aardbewing en tsoenami op die Indonesiese eiland Sulawesi. Foto: ANA

Die dodetal ná die vernietigende aardbewings en daaropvolgende tsoenami op die Indonesiese eiland Sulawesi het tot meer as 800 gestyg, berig die BBC.

Volgens die nasionale rampagentskap is die gebied wat deurgeloop het, groter as wat hulle aanvanklik vermoed het. Die tsoenami het branders aan die kus van die eiland van tot 6 m hoog tot gevolg gehad.

Talle mense is nog vasgevang onder die puin ná Vrydag se aardskuddings, waarvan die ergste 7,5 gemeet het, maar versperde paaie en ineengestorte brûe maak dit moeilik om die slagoffers te bereik.

Minstens twee stede, waaronder die gewilde toeristebestemming Palu, het onder die geweld van die tsoenami deurgeloop, berig Deutsche Welle.

Volgens dié nuusdiens is die jongste dodetal van 832 ʼn skerp styging vergeleke met Saterdag se syfer van nagenoeg 380 sterfgevalle, van wie amper almal in Palu, die hoofstad van die provinsie Sulawesi.

Jusuf Kalla, adjunkpresident van Indonesië, die land met die grootste Moslembevolking, voorspel wanneer die finale dodetal bekendgemaak word, kan dit blyk dat “duisende” hul lewe verloor het.

Dis nog nie moontlik om die omvang van die skade te bepaal nie omdat talle gebiede van die buitewêreld afgesny is. Foto: Facebook

Die plaaslike regering het ʼn noodtoestand tot 14 Oktober afgekondig om die reaksie op die ramp vaartbelyn te maak, berig die Australiese dagblad Sydney Morning Herald (SMH). Van die dringendste behoeftes is aan skoon water en brandstof.

Die owerheid vermoed 50 mense is nog vasgevang onder die oorblyfsels van die Roa-Roa-hotel in Palu, maar die opruiming word bemoeilik deur die groot hoeveelheid puin en ʼn tekort aan swaarvoertuie.

Reddingswerkers probeer brandstof van omliggende gebiede verkry en die kommunikasiekanale herstel om die opruiming te vergemaklik, berig die SMH.

Meer as die helfte van die 560 gevangenes in Palu se tronk het Vrydag ontsnap nadat die gevangenis se mure weens die aardbewing in duie gestort het, het die Amerikaanse dagblad StarTribune berig. ʼn Bewaarder het gesê dit was vir sy kollegas baie moeilik om te keer dat die gevangenes weghardloop omdat hulle self paniekbevange was en hul eie lewe moes red.

Meer as 100 gevangenes het in die stad Donggala onder soortgelyke omstandighede ontsnap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Linda ·

Kyk na spelling. Gestig na 800.
Baie dankie vir julle nuus. Hou so aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.