Dodetal in massaskietery styg tot 18

Polisielede bewaak die tandeelkundige praktyk wat aan die aanvaller behoort het. (Foto: Andrew Vaughan/The Canadian Press, AP)

Die dodetal in massaskietery in Kanada het tot 18 gestyg – en die polisie verwag dat dit selfs verder kan styg terwyl daar deur talle misdaadtonele gesif word.

Die afgelope naweek se skietery op verskillende plekke in Nova Scotia word bestempel as die dodelikste in Kanadese geskiedenis.

Die 51-jarige Gabriel Wortman is ook in die skietery dood, maar die owerhede het nog nie ʼn motief vir die dodelike aanvalle bekend gemaak nie.

Die hoof van die Royal Canadian Mounted Police, hoofsupt. Chris Leather, het gesê sommige van die huise is tydens die aanvalle aan die brand gesteek terwyl die slagoffers tuis was. Kanadese is weens die staat van algehele afsondering wat weens die Covid-19-pandemie geld tot hul huise beperk.

Leather het gesê ondersoekspanne fynkam 16 tonele in sentraal- en noordelike Nova Scotia. Sommige van die slagoffers het Wortman geken en ander glad nie.

“Ons is redelik seker dat ons al die misdaadtonele geïdentifiseer het. Daar was vyf brande van strukture, die meeste daarvan huise, en ons glo daar kan nog slagoffers wees in die huise wat afgebrand het,” het Leather gesê.

Die slagoffers sluit ʼn polisiebeampte in. Konst. Heidi Stevenson is ʼn ma van twee en was 23 jaar lank ʼn polisielid. Nog ʼn beampte is gewond en sterk tuis aan.

Twee gesondheidswerkers by plaaslike verpleeginrigtings en ʼn onderwyseres is onder die ander slagoffers.

Justin Trudeau, die Kanadese eerste minister, het gesê die inwoners van die provinsie is baie na aan mekaar en die meerderheid van hulle het een of ander verbintenis met een of meer van die slagoffers. “Die hele provinsie en land is in rou gedompel terwyl ons iets probeer verwerk wat ondenkbaar is,” het Trudeau gesê.

“Die pandemie gaan verhoed dat ons saam kan rou, maar ʼn nagwaak gaan aanlyn gehou word om die lewens van die slagoffers te gedenk.”

Die aanvaller is ook dood, maar die polisie het nie die omstandighede rondom sy dood bekend gemaak nie. (Foto: Tim Krochak/The Canadian Press via AP)

Trudeau het die media gevra om nie die naam van die aanvaller óf sy foto te gebruik nie. “Moenie dié persoon die geskenk van berugtheid gee nie.”

Die 12 uur lange aanval het laat Saterdagmiddag in die landelike dorpie Portapique, sowat 100 km van Halifax, begin. Die polisie daar het inwoners gewaarsku om hul deure te sluit en in hul kelders te skuil terwyl die aanvalle plaasgevind het.

Verskeie liggame is later binne en buite ʼn huis in die buurt waar die verdagte gewoon het, gevind.

Liggame is ook in ʼn radius van 50 km van waar die skietery aanvanklik begin het, gevind. Die owerhede glo die aanvaller het moontlik sy eerste slagoffers spesifiek geteiken, maar later blindweg aanvalle geloods.

Hy het ʼn polisieuniform gedra en sy voertuig aangepas om soos dié van die polisie te lyk. Hy was glo ook obsessief oor die polisie.

Die owerhede glo Wortman het alleen opgetree, maar het geen nota van hom gevind nie. Die polisie fynkam ook nog die misdaadtonele om te bepaal watter wapens gebruik is.

Die polisie het aanvanklik gesê Wortman is by ʼn vulstasie aangekeer, maar het later gesê hy is dood. Hóé hy gesterf het, is nie bekend gemaak nie. Volgens ʼn polisiebeampte was daar wel in ʼn stadium ʼn skietery tussen die polisie en die verdagte.

Wortman het ʼn tandheelkundige praktyk in Dartmouth, naby Halifax, besit en het volgens inwoners deeltyds in Portapique gewoon.

Volgens ʼn buurvrou het Wortman “probleme” gehad en was hy obsessief en jaloers.

Die premier van Nova Scotia, Stephen McNeil, het gesê nou is nie die tyd om byeen te kom om te rou nie. “Ons kan te midde van die tragedie nie vergeet dat ons steeds ʼn dodelike virus beveg nie. Ons het julle samewerking nou meer as ooit nodig. Dit verg innerlike krag. Die beste wat ons kan doen om die slagoffers te gedenk, is om op te tree in ʼn manier wat ons mede-inwoners van Nova Scotia beskerm.”

Massaskieterye is betreklik skaars in Kanada. Die land het sy vuurwapenbeheerwette hervorm nadat Marc Lepine in 1989 14 vroue vermoor en homself toe om die lewe gebring het. Voor die naweek se voorvalle was dit die ergste massaskietery in die land se geskiedenis.

Trudeau het Maandag gesê die regering gaan verdere wetgewing oor vuurwapenbeheer implementeer wat militêre soort aanvalswapens gaan verbied. Daar is reeds met die proses begin voordat die uitbreking van die nuwe koronavirus tot die onderbreking van die huidige parlementêre sessie gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.