Dodetal klim ná gebou in Miami ineenstort

Soek-en-reddingspanne soek deur die puin na oorlewendes. (Foto: CHANDAN KHANNA / AFP)

Die dodetal nadat ’n woonstelgebou naby Miami Beach in die Amerikaanse deelstaat Florida vroeër vandeesweek gedeeltelik ineengestort het, staan nou op vyf.

’n Ingenieursverslag van drie jaar gelede is intussen bekend gemaak waarin daar tóé reeds gewaarsku is oor “groot strukturele skade” by die 12 verdieping hoë Champlain Towers South-gebou in Surfside.

Daniella Levine Cava, burgemeester van Miami-Dade, het Saterdagaand aan verslaggewers gesê plaaslike soek-en-reddingspanne het ’n vyfde liggaam asook menslike oorskot in die puin gevind.

Drie van die vyf oorledenes is reeds uitgeken terwyl 156 mense nog vermis word.

Die soektog na moontlike oorlewendes vorder egter baie stadig nadat ’n brand Saterdag diep in die puin ontstaan en soek-en-reddingswerkers se pogings belemmer het. ’n Loopgraaf moes deur die puin gegrawe word, maar die brand is eindelik geblus.

“Ons het nie ’n probleem met hulpbronne hier nie, ons het ’n probleem met geluk aan ons kant,” het Charles Burkett, burgemeester van Surfside, gesê.

“Die probleem is dat ons die elemente – die brand – moes bestry, maar ons het een doel voor oë en dit is om daardie mense veilig uit die puin te bring en aan hul families terug te besorg.”

Die 12-verdieping Champlain Towers South-gebou in Surfside het Donderdag in die vroeë oggendure gedeeltelik ineengestort. (Foto: CHANDAN KHANNA / AFP)

Maroela Media het vroeër berig ’n onbekende aantal inwoners het vermoedelik gelê en slaap toe die 12 verdieping hoë Champlain Towers South-gebou in Surfside Donderdag in die vroeë oggendure gedeeltelik ineengestort het.

Die plaaslike owerhede en kundiges het weer benadruk dat die oorsaak van die ineenstorting van die Champlain Towers South nog onbekend is.

Luidens die verslag van ’n ingenieurskonsultant wat die gebou in 2018 bestudeer het, het inspekteurs egter destyds al strukturele skade aan die betonplaat onder die swembaddek op die grondvlak en talle krake en verkrummeling in die parkeergarage gevind.

Dié verslag is Vrydag bekend gemaak en sedertdien is talle vrae oor die veiligheid van die Champlain Towers South-gebou geopper.

Die ingenieursfirma Morabito Consultants se verslag het nié aangedui dat die woonstelblok die gevaar van ineenstorting loop nie, maar wel dat herstelwerk benodig word om “strukturele integriteit” te handhaaf.

“Die versuim om die waterdigting in die nabye toekoms te vervang, sal die omvang van die betonverswakking eksponensieel laat uitbrei.”

Luidens die verslag is die grootste deel van die skade “waarskynlik veroorsaak deur jare lange blootstelling aan die korroderende soutlug langs die Suid-Florida-kus”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Wat een aaklige ramp wat hul nie getref het nie. Soveel slagoffers wat geen kans gestaan het nie. Die hele gebou sal gesloop moet word. En die rede vir die gebou ineenstorting klink na swak onderhoud. Iemand sal daar moet verduidelik.

Madz ·

Sekere SA geboue se voorland … mag die Liewe Vader ons behoed dat onskuldiges moet boet met hul lewens omdat ons regering te slap is om gehoor te gee aan gevaartekens….

Belinda ·

Klink of SA nie die enigste slap-gat houding het nie. Lyk my orals neem niemand meer trots op hul werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.