Dodetal ná Japan-aardbewing styg steeds

Reddingsbeamptes is steeds op soek na oorlewendes op Hokkaido-eiland (September 2018) Foto: Eugene Hoshiko/AP Photo

Die dodetal van ʼn kragtige aardbewing in die noorde van Japan twee dae gelede staan op 35, maar drie persone word nog steeds vermis.

Eerste minister Shinzo Abe het onderneem om Sondag na Hokkaido te reis om die omvang van die skade te bepaal ná die aardbewing van 6.7.

Hy sal na verwagting Atsuma besoek, waar die aardbewing tot grootskaalse grondstortings gelei en huise en paaie verwoes het, aldus Jiji Press.

Die aardbewing het ook tot grootskaalse kragonderbrekings gelei en meer as 3 miljoen huise se elektrisiteittoevoer is afgesny. Dit is teen Saterdagaand grootliks herstel.

Toyota, die motorvervaardigingsmaatskappy, het bedrywighede in 16 van sy 18 aanlegte in Japan opgeskort, aangesien sy fabriek op Hokkaido-eiland weens die kragonderbreking moes sluit.

Ongeveer 40 000 persone, insluitend soldate, brandbestryders en polisiebeamptes is nog steeds besig om in die modder na oorlewendes te soek, het Yoshihide Suga, woordvoerder vir die regering, gesê. Nog modderstortings word in die gebied verwag aangesien reën vir Sondag voorspel word.

Meer as 600 persone is tydens die aardbewing beseer. Duisende inwoners sal waarskynlik nog ʼn aand in tydelike skuilings moet deurbring terwyl ʼn reeks naskokke die gebied teister. Meer as 130 naskokke is reeds aangeteken, aldus die meteorologiese agentskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lena ·

Here bewaar asb daar die mense in japan,U is in beheer,ons bid dat U daardie mense se hartseer sien Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.