Dodetal ná Jemen-ontploffing styg skerp

Rook borrel kort na die ontploffing uit die Aden-lughawe in Jemen. (Foto: Saleh Al-Obeidi/AFP)

Die dodetal in Donderdag se ontploffing by die Aden-lughawe in Jemen het reeds tot 26 gestyg.

Die ontploffing het plaasgevind skaars oomblikke nadat lede van ʼn nuwe eenheidsregering daarheen gevlieg het.

Hoewel alle ministers volgens berigte ongedeerd is, is meer as 50 mense gewond, het mediese en regeringsbronne in die suidelike stad gesê. Die dodetal kan na verwagting selfs verder styg.

Die Internasionale Komitee van die Rooikruis (ICRC) het gesê een van sy werkers was onder die slagoffers wat dood is en nog drie is gewond.

Burgerlikes, veiligheidswagte en plaaslike amptenare was ook onder die slagoffers.

“Die mense van Jemen is die afgelope vyf jaar aan geweldige lyding onderwerp. ʼn Dag soos dié veroorsaak net meer smart,” het Dominik Stillhart, operasionele direkteur van die ICRC, gesê.

Terwyl rook ná die aanvanklike ontploffing uit die lughaweterminaal geborrel het, puin oor die gebied gestrooi gelê het en mense nadergestorm het om die gewondes te help, het ʼn tweede ontploffing plaasgevind.

Beeldmateriaal wys wat lyk na ʼn missiel wat die aanloopbaan – wat net oomblikke tevore gepak was met mense – tref en dan in ʼn vlammebal ontplof.

“ʼn Houthi-hommeltuig wat probeer het om die Al-Masheeq-paleis te tref, is neergeskiet,” het die Saoedi-geleide koalisie gesê.

Tienduisende mense, die meeste van hulle burgerlikes, is dood en miljoene meer is ontwortel in Jemen se voortslepende vyf jaar lange oorlog. Dit het gelei tot wat die Verenigde Nasies (VN) bestempel het as die wêreld se ergste humanitêre ramp.

Jemen se internasionaal erkende regering en suidelike separatiste het op 18 Desember ʼn magsdelingskabinet gevorm en ʼn front teen die Houthi-rebelle geskep wat Sanaa en die grootste gedeelte van die noorde van die land beheer.

Moammar al-Eryani, minister van inligting, het gesê al die lede van die nuwe regering is ongedeerd, terwyl hy terselfdertyd die skuld vir die ontploffing op Houthi-rebelle gepak het.

Weermagpersoneel wag om die eenheidsregering by die lughawe te verwelkom. Die ontploffing het oomblikke later plaasgevind. (Foto: Saleh Al-Obeidi/AFP)

“Ons verseker julle dat die lafhartige terreuraanval deur Houthi-militia wat deur Iran gesteun word, ons nie gaan verhoed om ons patriotiese plig te doen nie,” het Al-Eryani getwiet.

Die minister van buitelandse sake, Ahmed bin Mubarak, het ook die rebelle blameer, maar pres. Abed Rabbo Mansour Hadi was meer omsigtig.

“Die terreurdade deur Iran-gesteunde Houthi-militia en ekstremistiese terreurgroepe gaan nie die wettige regering keer om sy werk te doen nie,” het Hadi gesê. Hy het egter nie gespesifiseer wie hy vir die aanval by die lughawe aanspreeklik hou nie.

Rajih Badi, regeringswoordvoerder, het gevra vir ʼn internasionale ondersoek.

“Dit is te vroeg om enige party die skuld te gee voor ʼn ondersoek bewys wie die aanval uitgevoer het.”

‘Onaanvaarbare daad’ 

Die VN het die aanval ten sterkste veroordeel.

Sekretaris-generaal Antonia Guterres “veroordeel die laakbare aanval”, het ʼn woordvoerder gesê. Volgens hom is die VN ook verbind daartoe om ʼn onderhandelde skikking vir die Jemen-konflik te vind.

Martin Griffiths, die VN se afgevaardigde vir Jemen, het die aanval “onaanvaarbaar” genoem en gesê dit is belangrik dat daar vir vrede gewerk word. ʼn EU-woordvoerder in Brussel het die aanval ook as ʼn “onaanvaarbare daad van geweld” bestempel.

Die kabinetslede het in Aden aangekom enkele dae nadat Hadi hulle in Saoedi-Arabië beëdig het. Saoedi-Arabië lei ʼn militêre koalisie teen die insurgente.

‘n Skermgreep van die ontploffing by die Aden-lughawe in Jemen. Die dodetal gaan na verwagting selfs verder styg. (Foto: AFPTV/AFP)

Hadi het na Riyadh gevlug nadat Sanaa in 2014 in die hande van die Houthi’s geval het.

Die nuwe regering sluit ministers in wat lojaal teenoor Hadi is, asook ondersteuners van die Suidelike Oorgangsraad – afskeidingsvoorstanders – en ander partye.

Terwyl almal teen die Houthi-rebelle gekant is, het diep verdeeldheid onder die betrokke partye nietemin ontstaan.

Saoedi-Arabië het die eenheidsregering aangemoedig om die “oorlog in ʼn burgeroorlog” te stuit en die koalisie teen die Houthi’s te versterk. Dié is daarop uit om die sleuteldorp Marib te gryp. Dit is die regering se laaste vesting in die noorde.

Mohammed Al Jaber, die Saoedi-ambassadeur na Jemen, het gesê die aanval was ʼn lafhartige terreurdaad.

Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), wat die suidelike afskeidingsvoorstanders steun, sê die lughawe-aanval was niks anders as ʼn sinistere plan om die kanse op vrede en bestendigheid te ondermyn nie.

Jemen het steeds ʼn beduidende teenwoordigheid van djihadiste, onder wie dié van Al-Kaïda en militante lojaal aan die Islamitiese Staat – ten spyte van twee dekades van Amerikaanse lug- en hommeltuigaanvalle.

Al-Kaïda in die Arabiese skiereiland, wat die VSA beskou as die terreurgroep se gevaarlikste tak, het floreer tydens die chaos wat Jemen se burgeroorlog veroorsaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.