Dodetal staan op 847 ná sikloon Idai

‘n Pad in Nhamatanda sowat 50km van Beira in Mosambiek wat tydens die sikloon beskadig is. Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Die dodetal staan sowat drie weke ná sikloon Idai op 847 nadat dié storm middel Maart grootskaalse verwoesting in Mosambiek, Zimbabwe en Malawi gesaai het.

Die internasionale mediahuis Reuters het Sondag ʼn uiteensetting van sterftes gepubliseer weens die humanitêre krisis waarin die onderskeie Afrika-lande gedompel is.

Volgens Reuters het 602 mense in Mosambiek omgekom sedert sikloon Idai die hawestad Beira op 14 Maart getref het.

Twee groot riviere, die Buzi en die Pungue, se oewers het weens die storm meegegee waarna plaaslike nedersettings deur vloedwater meegesleur is. Talle mense is beseer met dié syfer wat Sondag op 1 641 gestaan het.

Die storm het die ooste van Zimbabwe op 16 Maart getref waar huise en gemeenskappe in die Chimanimani- en Chipinge-distrikte verwoes is. Volgens die plaaslike regering is 185 mense in dié land dood, maar volgens die Verenigde Nasies se immigrasie-agentskap staan dié dodetal eerder op 259. Ongeveer 200 ander is in dié land beseer.

Die sikloon het daarna swaar reën en oorstromings na die laer Shire‑rivier-distrikte van Chikwawa en Nsanje in die suide van Malawi gestuur waarna 60 mense sedertdien in dié land gesterf het en 672 beseer is.

Cholera-gevalle neem toe

Maroela Media het vroeër berig die eerste sterfte weens cholera ná sikloon Idai is sowat ʼn week gelede in Beira in Mosambiek bevestig nadat die internasionale federasie van die Rooikruis en Rooikruisverenigings (IFRC) kort ná sikloon Idai reeds hul kommer oor die gepaardgaande gesondheidsrisiko’s uitgespreek het.

“Siektes kan toeneem ná ʼn ramp soos dié weens besoedeling van watervoorsiening. Dit kan uitbrekings van virale gastroënteritis, hepatitis, cholera en ander siektes tot gevolg hê,” het Jamie LeSueur, die leier van reddingspogings van die IFRC in Beira, verlede maand gesê.

Volgens Reuters is 2 424 gevalle van dié siekte sedertdien in Mosambiek aangemeld met vyf sterftes wat daarmee verband hou.

The Washington Post het egter Sondag berig dat meer as 3 100 gevalle van cholera in dié land aangemeld is en dat ses mense reeds weens dié siekte omgekom het.

Die aantal gevalle het verlede week binne ʼn kwessie van 24 uur byna verdubbel van 271 na 517. Dié syfer styg steeds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marous ·

Die oewers kon nie meegee nie . Die water is na die vloedvlaktes waar dit al vir donkie jare so aangaan . Mense gaan bly ( Verstaanbaar soms noodgedwonge en soms uit onkunde ) in vloed vlaktes en dan gebeur die dinge . Nie net in Afrika maar orals in die wereld .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.