Dodetal styg drasties ná Mexiko-aardbewing

Inwoners van Mexikostad staan in donkerte. Foto: AP

Die dodetal in ʼn reuse-aardbewing wat Mexiko Donderdagnag (plaaslike tyd) getref het, het teen Sondagoggend op 90 gestaan.

Dié nuus volg ná die dodetal Vrydag slegs vyf was.

Enrique Peña Nieto, die Mexikaanse president, het vroeër gesê dit is die kragtigste aardbewing in dié land die afgelope eeu. Die aardbewing het ʼn sterkte van sowat 8,2 gehad.

Die BBC het Sondag berig minstens 71 mense is dood in Oaxaca in die suidweste van die land. Honderde gesinne se huise is deur die aardbewing verwoes en hulle moes intussen in tente op straat skuiling soek.

Twee ander mense is ook dood ná die tropiese storm Katia Mexiko getref het.

Volgens die BBC was daar al meer as 700 naskokke ná die aardbewing die land Donderdag getref het. Intussen is duisende mense sonder watertoevoer en elektrisiteit weens die verwoestende uitwerking van die aardbewing.

ʼn Tsoenami-waarskuwing is Vrydagoggend ná die aardbewing uitgereik.

Sowat 1 800 km verder, in Florida, is meer as 5 miljoen inwoners van dié Amerikaanse deelstaat aangesê om hul huise te ontruim ter voorbereiding op orkaan Irma, die grootste storm oor die Atlantiese Oseaan die afgelope 100 jaar, wat Sondagoggend dié vasteland gaan tref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.