Dodetal styg in China-vloede; talle word nog vermis

Zhengzhou het op 20 Julie 2021 meer as 200 mm reënval in ʼn uur gekry. (Foto: China Xinhua News/Facebook)

Minstens 302 persone is reeds dood tydens vloede in sentraal-China verlede maand en tientalle word nog vermis, het beamptes Maandag gesê ná ʼn gemiddelde jaar se reënval in slegs drie dae geval het.

Zhengzhou, die hoofstad van die Henan-provinsie en kernpunt van die vloede, is die swaarste getref. Die dodetal staan op minstens 292 en 47 wat vermis word, het die plaaslike regering tydens ʼn perskonferensie gesê.

Inwoners is vasgekeer in moltreine, ondergrondse parkeerterreine en tonnels.

Talle persone is in Zhengzhou dood weens oorstromings en modderstortings, het burgemeester Hou Hong aan verslaggewers gesê. Volgens haar is 39 persone se liggame uit ondergrondse parkeerterreine en ander ondergrondse ruimtes uitgehaal.

Dit is China se dodelikste vloede in ʼn dekade.

China se kabinet het Maandag aangekondig ʼn ondersoek is van stapel gestuur oor die hantering van die vloede en voorgestelde maatreëls om rampbestuur te verbeter, het die amptelike Xinhua-nuusagentskap berig.

Swaar reën wat op 17 Julie begin val het, het meer as 14 miljoen mense geraak. Duisende huise is beskadig en Zhengzhou het na raming sowat 53 miljard yuan (sowat R118 miljard) se skade gely. Die totale skade oor die provinsie heen is sowat dubbeld dié bedrag.

Kenners sê onverwagse weerpatrone soos vloede en uitmergelende droogtes kom al hoe meer voor weens klimaatsverandering. Vrae word gevra oor hoe China se stede beter voorbereidings kan tref teen uiterste weersomstandighede.

Stad- en provinsiale beamptes word in die gesig gestaar deur versoeke vir aanspreeklikheid. Die vrou van een van die moltreinslagoffers het aan plaaslike media gesê sy is van voornemens om die metro-operateur te dagvaar vir nalatigheid.

Sosialemediagebruikers eis ook beter rampbestuurprotokol en kritiseer die regering se reaksie. “Kan ons Zhengzhou se dreineringstelsel goed ondersoek?” wou ʼn inwoner op Weibo weet. “Ons grawe en bou elke dag nuwe paaie. Verander die leierskap en doen alles van voor af. Die geld is op kunsmatige goed spandeer!”

Kritiek jeens die regering se hantering van die ramp het egter skerp reaksie uitgelok. ʼn Groot blommekrans by die Zhengzhou-moltrein is verlede week deur owerhede afgesper en buitelandse joernaliste wat verslag gedoen het oor die vloede word aanlyn en op die toneel geteister. Verslaggewers van AFP is deur ontstoke inwoners gedwing om beeldmateriaal oor ʼn oorstroomde verkeerstonnel uit te vee.

Zhao Lijian, woordvoerder vir die departement van buitelandse sake, het verlede week die BBC veroordeel vir sy kritiek en dit ʼn “Fake News Broadcasting Company” genoem “wat China aanval en belaster en ernstig afwyk van joernalistieke standaarde”.

Beamptes en staatsmedia beskuldig Westerse mediaorganisasies van vooroordeel teen China. Die VSA het gesê hy is “baie besorg” oor die teistering en intimidasie van buitelandse korrespondente wat die vloede in China dek.

Lug, spoor en padvervoer in Henan het intussen hervat, alhoewel die Zhengzhou-moltrein steeds gesluit bly, aldus ʼn beampte in Henan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.