Dodetal styg in Italië-kabelkarretjieongeluk

Foto: Alpe-reddingsdiens (@cnsas_official/Twitter)

Veertien mense is Sondag dood en ʼn kind ernstig beseer toe ʼn kabelkarretjie se kabel gebreek en dit die kant van ʼn berg getref het in die noorde van Italië.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het in die vakansiedorp Stresa, aan die oewer van die Maggiore-meer in die Piedmont-streek-plaasgevind.

Die dodetal was vroeër as 11 aangegee, maar is intussen opwaarts na 14 aangepas en die Alpe-reddingsdiens het gesê die dodetal kan moontlik styg. ʼn Israeli-egpaar wat in Italië saam met hul kind woon, is oorlede. Hul vyfjarige seun is een van twee kinders wat ná die voorval met ʼn helikopter na ʼn pediatriese hospitaal in Turyn geneem is. Hy veg steeds om sy lewe met ʼn erge breinbesering en gebreekte bene.

ʼn Negejarige kind, wat ook na die hospitaal geneem is, het intussen aan sy beserings beswyk.

Eerste minister Mario Draghi het sy “absolute hartseer” uitgespreek en sy meegevoel betuig met die families van die slagoffers.

Stresa-kabelkarretjie (Foto: BKP, eie werk via Wikimedia Commons)

Die 20 minuut lange kabelkarretjierit is baie gewild onder toeriste en verbind Stresa met die 1 500 m hoë piek van Mottarone. Dit bied ʼn besonderse uitsig oor die Alpe.

Die ministerie van infrastruktuur het in ʼn verklaring gesê die ongeluk het omstreeks 12:30 (1030 GMT) plaasgevind en die karretjie, met 15 mense aan boord (kapasiteit van 35), was ongeveer 100 m van die piek. Die oorsaak van die ongeluk is vermoedelik ʼn kabel wat naby die bopunt van die roete gebreek het.

Alberto Cirio, streekspresident, het gesê hy is “platgeslaan” oor “ʼn enorme tragedie wat ons asem wegslaan”.

Giovanni Toti, president van die naburige Liguria, het gesê die tragedie vind plaas net wanneer Italië uit maande lange Covid-19-beperkings kom. “Sondag moes ʼn dag van heropening gewys het – vol hoop.”

Charles Michel, president van die Europese Raad, het op Twitter sy “innige meegevoel” met die families en vriende betuig wat ʼn geliefde verloor het.

Foto’s van die branddiens wys wrakstukke van die wit-en-rooi kajuit in ʼn bebosde gebied waar toegang moeilik is.

Angelo Garavaglia (59), eienaar van die Idrovolante-restaurant aan die onderkant van die kabelspoor, het gesê alle instandhouding is gedoen. “Hulle het baie geld spandeer. Hulle het baie werk gedoen,” het hy gesê. “Ek dink dit was ʼn ongeluk, want die stelsels was in ʼn goeie werkende toestand. Die instandhoudingsmaatskappye is van die beste in Italië. Dit was ʼn ongeluk. Die tegnici sal moet verduidelik wat gebeur het.”

Staatsaanklaers in Milan ondersoek ʼn saak van strafbare manslag en nalatigheid.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cindy ·

wanneer my vriende my probeer oorreed nog een keer om kabelkar te ry, sal ek die nou maar vir hulle wys.. My heel grootste vrees (veral saam die erge hoogtevrees) Hoe absoluut aaklig is hierdie nie vir al die oorledenes en hul geliefdes nie :(

ES ·

Sjoe, dis verskriklik… Die arme 5-jarige kind het altwee sy ouers en ‘n boetie/sussie verloor.

Kan nie eers dink hoe deurmekaar en verwarrend dit vir hom gaan wees nie.

Arthur ·

Dis uiters traumaties en ‘n ramp. Kabels soos dié, breek nie sommer net nie, dit slyt tot ‘n punt waar dit sal breek….. effektiewe inspeksies en onderhoud kon dit moontlik vermy het. ‘n Objektiewe ondersoek en aksie is nodig…

Hein ·

Ek dink darem Kaapstad se kabel karretjies word deeglik ondersoek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.