Dodetal styg in Taiwan-treinongeluk

Trein ontspoor in Taiwan (Foto: Taiwan Rooikruis/Facebook)

Minstens 51 persone is Vrydag dood toe ʼn volgepakte trein in Taiwan in ʼn tonnel ontspoor het ná ʼn vragmotor dit getref het. Dit is die ergste spoorwegvoorval in dié land in dekades.

Beamptes sê ʼn spoorweginstandhoudingsvoertuig het bo die treinspoor teen ʼn skuinste af gegly naby die oostelike kusstad Hualien.

“[Die bestuurder] het vermoedelik nie die handrem styf genoeg getrek nie en die voertuig het 20 meter ver tot op die treinspoor gegly,” het Feng Hui-sheng, adjunkdirekteur van Taiwan se spoorwegowerheid, aan verslaggewers gesê. In foto’s wat plaaslike media gedeel het, kan ʼn geel kantelbaktrok gesien word waar dit op sy sy langs die trein gelê het, net ʼn paar meter voor die ingang na die tonnel.

Sowat 480 passasiers was op die trein op pad na die ooskus vir die jaarlikse Qingming-fees, ʼn vier dag lange vakansienaweek.

Die Taiwan-spoorwegagentskap het gesê 146 passasiers is na ʼn hospitaal geneem buiten die 51 wat gesterf het. ʼn Fransman is een van die sterfgevalle en twee persone van Japan en een van Mácau is beseer.

ʼn Vrou, wat die ongeluk oorleef het, het aan TVBS-nuuskanaal gesê sommige passasiers wat vasgekeer was het om hulp geroep. Ander was bewusteloos. “Daar was baie mense wat onder sitplekke vasgekeer was en daar was ander bo-op die sitplekke,” het sy gesê.

President Tsai Ing-wen het die nooddienssentrum in Taipei besoek. Sy het gesê ondersoekbeamptes sal ondersoek instel na die oorsaak van dié noodlottige ongeluk. “Ons sal beslis die oorsaak van die ongeluk bepaal wat so baie lewens geëis het.”

Die ongeluk het omstreeks 09:30 (0130 GMT) op Taiwan se oostelike spoorweglyn plaasgevind. Reddingswerkers het ure lank gespook om by passasiers uit te kom wat in die tonnel vasgekeer was. Meganiese toerusting is gebruik om hulle uit die wrak te bevry.

Beamptes het teen laatmiddag gesê daar is nie meer enigiemand in die trein nie. Talle reddingsbeamptes bly egter op die toneel.

Vrydag se ongeluk is een van Taiwan se ergste spoorwegongelukke oor die afgelope paar dekades.

  • Die laaste groot ongeluk waar ʼn trein ontspoor het, was in 2018 en het die lewe van 18 mense geëis.
  • In 1991 is 30 persone dood en 112 beseer toe twee treine in Miaoli gebots het.
  • Dertig persone is in 1981 dood toe ʼn vragmotor ʼn passasierstrein getref het.
  • Volgens die Apple Daily-koerant was die eiland se ergste ongeluk in 1948 toe 64 gesterf het.
  • In 1961 is 48 oorlede in ʼn treinongeluk.
  • In 1978 het 41 persone in ʼn treinongeluk gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

4ntj13 ·

Hulle het darem ook al gistermiddag (SAST) die sterftesyfer aangepas na 50. Vanoggend kan mens al foto’s sien nadat hulle die enkele, onontspoorde trok verwyder het.

Pot se lepel ·

Groot nuus. 50 mense sterf. Sterkte aan hulle families.
In RSA worr gemiddeld elke dag soveel mense vermoor as ek nou omtrent reg onthou.

akkedismis ·

Die treindienste in Taiwan is fantasties, skoon,gerieflik en ALTYD op tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.