Dodetal styg ná aardbewing Turkye, Griekse eiland skud

Skade is ook aan geboue in die hawedorp Vathy op die Griekse eiland Samos aangerig. (Foto: Samos24.gr via REUTERS)

Minstens 19 sterftes is nou reeds aangemeld nadat ’n aardbewing Vrydagmiddag in die Egeïese See naby Turkye en noord van die Griekse eiland Samos voorgekom het.

Altesaam 17 mense is reeds in die Turkse provinsie Izmir dood, van wie een verdrink het. Twee tieners het ook op Samos gesterf nadat ’n muur vermoedelik op hulle ineengestort het.

Die Turkse staatsnoodagentskap sê 709 mense is in die aardbewing beseer.

Turkye se ramp- en noodbestuuragentskap (Afad) het die aardbewing op 6,6 gemeet terwyl die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) die aardbewing op 7,0 geregistreer het.

Die hawedorp Vathy se promenade onder seewater. (Foto: (Foto: Samos24.gr via REUTERS)

Tente is intussen opgerig om sowat 2 000 mense te huisves naby gebiede wat die ergste deur die aardbewing getref is.

Volgens die owerhede is 70 mense reeds uit die puin gered.

Maroela Media het vroeër berig die kern van die aardbewing was sowat 17 km van die stad Izmir en kon in Turkye, die Griekse eilande tot so ver as Istanboel en Athene gevoel word.

Die aardbewing het tot hoë golwe gelei en het oorstromings aan dele van die Turkse kus tot gevolg gehad met sprake van ’n “klein tsoenami”.

Die owerhede en lede van die publiek soek na oorlewendes tussen die puin in Turkye. (Foto: REUTERS/Tuncay Dersinlioglu)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.