Dodetal styg ná gebou in Frankryk ineenstort    

’n Woonstelgebou het Sondag in Marseille in Frankryk ineengestort. (Foto: Nicolas Tucat / AFP)

Die dodetal staan nou op ses nadat ’n woonstelgebou Sondag in Marseille in Frankryk ineengestort het ná ʼn ontploffing.

Nog liggame is Maandag in die puin gevind. Franse reddingswerkers in dié suidelike stad het vroeër gesê agt mense is ná die ontploffing as vermis aangemeld. Meer as 200 inwoners van omliggende geboue moes inderhaas uit die omgewing verwyder en elders gehuisves word.

Byna 48 uur ná die ontploffing by die betrokke woonstelgebou, waar inwoners kort voor die ontploffing ’n skerp gasreuk aangemeld het, het tientalle nood- en reddingswerkers met hommeltuie, hittesensors en snuffelhonde deur die puin gesoek waar die brand steeds gesmeul het.

Olivier Klein, minister van behuising, het Maandag op die toneel gesê vier lyke is gevind. Enkele ure daarna is ʼn vyfde en toe ’n sesde slagoffer ook opgespoor.

Die proses om dié slagoffers te identifiseer duur tans voort en volgens owerhede is kundiges reeds besig om die oorsaak van die ontploffing te bepaal.

Staatsaanklaers ondersoek ook ʼn moontlike saak van manslag.

Die brand wat steeds onder die puin woed het dit tot dusver vir snuffelhonde moeilik gemaak om oorlewendes of liggame op te spoor.

“Die kern van die brand is diep onder [die puin] en moeilik bereikbaar met brandslange. Ons kan ook nie te veel water spuit nie, anders maak dit te veel modder,” het brandbestryder Adrien Schaller gesê.

’n Snuffelhond en brandbestryder soek na oorlewendes nadat ’n woonstelgebou Sondag in Marseille in Frankryk ineengestort het. (Foto: Nicolas Tucat / AFP)

Marseille se burgemeester, Benoit Payan, het beveel dat die stadsaal se vlae halfstok gehys word, en dat boeke van medelye beskikbaar gestel word sodat plaaslike inwoners hul medelye met die slagoffers kan betoon.

ʼn Nagwaak is ook Maandagaand in ʼn nabygeleë kerk gehou.

“Hoewel hoop al meer kwyn, is dit belangrik om tot die einde daaraan vas te klou,” het Jean-Marc Aveline, aartsbiskop van Marseille, aan die gemeente gesê.

Die ontploffing het ook omvattende skade aan twee aanliggende geboue aangerig. Een van dié geboue het gevolglik Sondag ineengestort, maar niemand is in die proses beseer nie.

In 2018 is agt mense in Marseille dood toe twee vervalle geboue in die Noaillis-distrik ineengestort het. Owerhede het egter Sondag aangedui dat die jongste tragedie waarskynlik nie met strukturele probleme verband hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.