Dodetal styg ná Indonesië-aardbewing  

Die dodetal ná Vrydag se aardbewing in Indonesië het tot minstens 81 gestyg.

ʼn Aardbewing van 6,2 het Indonesië se Sulawesi-eiland vroeg Vrydag getref en geboue erg beskadig. Tientalle mense is beseer.

ʼn Tydelike mediese fasiliteit is by ʼn hospitaal in Mamuju opgerig. Dié hospitaal is die enigste in die stad wat nie erg beskadig is in die aardbewing nie. ʼn Tekort aan mediese personeel en toerusting bemoeilik sake.

Reddingswerkers gaan intussen onverpoos voort met die soektog na oorlewendes. Minstens 18 mense is reeds uit die puin gered. Snuffelhonde is by ʼn erg beskadigde hospitaal ingespan om na oorlewendes te soek.

Meer as 19 000 mense is haweloos nadat hul huise in die aardbewing vernietig is en tydelike skuilings is opgerig. Talle mense is ook te bang om na hul huise terug te leer uit vrees vir nog ʼn aardbewing en ʼn moontlike tsoenami.

Daar is intussen ook vrese omtrent die verspreiding van Covid-19 in tydelike kampe.

Vrydag se skudding het grootskaalse paniek onder inwoners van die eiland tot gevolg gehad. Die eiland is in September 2018 deur ʼn aardbewing van 7,5 getref wat ʼn tsoenami tot gevolg gehad het en meer as 4 000 lewens geëis het.

Indonesië, ʼn Suidoos-Asiese eilandgroep met bykans 270 miljoen mense, is vandeesweek deur ʼn reeks natuurrampe getref, waaronder dodelike grondstortings, oorstromings en vulkaniese uitbarstings.

Die land ervaar gereelde seismiese en vulkaniese aktiwiteit as gevolg van sy ligging in die Stille Oseaan se sogenaamde ring van vuur, waar tektoniese plate bots.

ʼn Reuse-aardbewing van 9,1 het op 26 Desember 2004 die kus van Sumatra getref en ʼn tsoenami het gevolg. Meer as 220 000 mense is dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.