Dodetal styg ná ontploffings in Kaboel

Afghane wag vir ‘n vliegtuig om uit Afghanistan te vlug. Dit volg na die twee bomme wat Donderdag by die lughawe afgegaan het (Foto: Etat Major Des Armées, AFP)

Twee selfmoordbomme wat Donderdag byna gelyktydig naby die lughawe in Kaboel, Afghanistan, afgegaan het, het die lewe van minstens 90 mense geëis. Dertien van die oorledenes was Amerikaanse soldate.

Minstens 150 mense is beseer deur hierdie bomme van die Islamitiese Staat (Isis).

Amerikaanse bevelvoerders het gesê hulle is op hul hoede vir nog aanvalle by die lughawe deur Isis, insluitend moontlik vuurpyle of bomme.

Maroela Media het vroeër berig die een bom het afgegaan naby die Baron-hotel, digby die lughawe, waar Britse soldate en burgers tuisgaan. Geweerskote is ook by die hotel gehoor. Daar was ook ʼn ontploffing in ʼn rioolwatersloot by die Abbey-hek van Kaboel se internasionale lughawe.

Hordes Afghane kom al die afgelope week by die Abbey-hek byeen om toegang tot die lughawe te kry om die land te verlaat. Buitelandse burgers en Afghane word onder die beheer van die VSA deur die lughawe uit die land ontruim. Die Taliban het vroeër die week egter gewaarsku dat buitelandse magte tot 31 Augustus kans het om hul landsburgers uit Afghanistan te verwyder. Die Taliban het dié sperdatum as ’n “rooi lyn” bestempel.

Die Amerikaanse president Joe Biden het Donderdagaand in ʼn toespraak ook onderneem om voort te gaan met die ontruimings (Foto: Drew Angerer, AFP)

BBC berig Boris Johnson, die Britse eerste minister, het aangedui die Verenigde Koninkryk gaan voort met sy operasie om mense uit Afghanistan te verwyder ondanks die “veragtelike” bomaanvalle. Ná ‘n noodvergadering het die premier die versekering gegee dat die Verenigde Koninkryk onverpoos sal werk om sy burgers en Afghane uit die land te bevry.

Die Amerikaanse president Joe Biden het Donderdagaand in ʼn toespraak ook onderneem om voort te gaan met die ontruimings. Hy het gesê die VSA sal die aanval “nie vergewe en nie vergeet nie”, en aan die oortreders sê: “Ons sal julle opspoor en aan die pen laat ry.”

Biden is glo vroeër die week teen die moontlike terreuraanval op die lughawe gewaarsku.

Australië het Vrydag gesê dat al sy troepe uit Afghanistan onttrek is kort voor die bomaanvalle in Kaboel, nadat hulle vroeër die week “baie duidelike waarskuwings van ʼn dreigende aanval ontvang het”.

Meer as 100 000 mense is reeds uit Afghanistan ontruim sedert die Taliban op 15 Augustus in die land aan bewind gekom het. Afghane wou sedertdien probeer ontsnap van die gevreesde bewind van dié fundamentalistiese Islamitiese beweging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

ES ·

Dit is nou dieselfde ISIS wat beweer het hulle sal niemand leed aandoen nou dat hulle in bewind is…

Ek voel jammer vir die Afghaanse mense wat al die nodige toerusting en opleiding het om terug te baklei maar bloot net te bang is. Dit moet verskriklik wees om al jou besittings te los en te vlug na ‘n ander land waar jy waarskynlik vir die res van jou lewe ‘n vlugteling gaan wees.

Aai ·

Taliban hou niks van ISIS dit is nie ISIS wat gese het hulle sal niemand leet doen dit was die Taliban’s wat dit gese het.

Robert ·

Daar is min om te onderskei tussen die extrimiste. En ja ek glo die oorgrote meerderheid Afgan soldate was in elk geval Taliban wat taqiya toegepas het en net gewag het vir die geleentheid wat Biden geskep het.

Hardekwas ·

Nog n paar bokwagters wat ander dood in die naam van geloof.

VaalDonkie ·

Dit gaan nie oor geloof nie. Amerika het niks in Afghanistan verloor nie. Hulle soek net skoor daar. En toe kry hulle dit.

piet ·

Regtig Vaaldronkie? Ek dog hulle was daar om die vrede te bewaar en terrorisme te beveg. Maar hulle doen nou die regte ding om te onttrek en net hulle eie belange voortaan te beskerm. So laat terrorisme nou maar die wereld oorvat en die wat dit wel kan bestry in hulle eie lande, laat hulle probeer om dit te doen sonder VSA se hulp. Kry vir julle.

Elmarie ·

Ek verstaan net nie. Hulle was bewus van die gevaar. Hoe het die selfmoord bom aanvallers ongesiens tussen die mense ingekom?

Aai ·

Elmarie al die mense daar loop met rugsakke al wat hulle nog het,net onmoontlik om dit te beheer want as hy by jou is om na sak te kyk is dit klaar te laat.Dit is hoekom dit nou uiters gevaarlik is om daar te wees jy weet nie wie is jou vyand.Hoeveel van daai mense wat hulle vlieg na ander lande is nie ook terroriste?

Colin ·

Hulle was bewus daarvan ja, maar was magteloos om enigiets daaraan te doen. Vlug en die wêreld veroordeel jou, bly agter en probeer mense land-uit help en die wêreld is kwaad omdat jy geweet het van die gevaar. Isis was net weereens die opportunistiese terreur groep waarvoor hulle bekend is.

E ·

Kabul en die lughawe is nou so chaoties, dit was bloot die perfekte omstandighede vir sulke aanvalle.

A ·

As Trump in beheer was, sou hy persoonlik die selfmoord bomaanvaller tot die grond stoei en neutraliseer. Nie net is hy die fiksste president ooit nie, hy was ook op WWF.

annie ·

Rusland was self betrokke daar voor die VSA en het hulle gewaarsku, maar wie luister na die Russe. So baie buitelandse opportuniste in ‘n land met net ‘n smokkelhandel-ekonomie? Berigte dui daarop dat groot skandes en skade al sal wees wat die VSA se betrokkenheid kenmerk. Has-been Biden sit nou met ‘n bewerige handjie ‘n bloed-rooi kersie op die flop-suurroom-versierde aangebrande koek.

Robert ·

Al voor Alexander die grote se tyd was Afganistan ‘n plek wat nie invalle geduld het nie… sommige mense onthou geskiedenis maar ander ignoreer dit tot hul nadeel.

Anna-marie ·

Arme Joe op die foto. Gee hom net ‘n roomys dan sal hy beter voel.

Robert ·

Taliban = ISIS = El Kaida… dieselfde slang met verskillende velpatrone.

Kosie ·

Biden het seker vergeet hulle het hom gewaarsku van die moontlikke aanval.

gpsa ·

Verstaan nie dat almal Joe Biden wil blameer nie. Hulle was 20 jaar daar met hoeveel Amerikaners se lewens gekos het. Amerika het selfs vir hulle ‘n weermag opgebou, sterker as die Taliban, maar toe die moeilikheid kom hardloop hulle die vlaktes in. Wat Trump betref wat het hy ooit vir SA beteken? Absoluut niks. Waaroor hef almal Trump so op?

WLM ·

Moes hulle nie dalk die landsburgers ontrek het voordat hulle die wermag ontrek het nie ? en het hulle al hul wwapens saamgeva toe hulle ontrek het?

KB ·

Dis nou danksy sekere westerse leiers wat eenvoudig gat-oor-kop hul soldate onttrek het, hul ambassade-personeel en eie burgers, asook miljarde rande (van die nuutste tegnologiese) wapentuig net so agter gelaat, om tog net hul liberale politieke spel te kan speel.
Ek het nuus vir hierdie rotte, die spreekwoordelike skrif is aan die muur vir hierdie politici…

Amony ·

Ek hoop maar net nie dat verskuilde taliban of isis hulle as gewone Afgaanse vlugtelinge voordoen ek dan na die lande gaan om terroristiese aktiwiteite daar voort te gaan. Hoe weet bv Amerika of dit rerig ń vlugteling is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.