Dodetal styg ná Pakistanse treinongeluk

‘n Nooddienswerker op die toneel waar twee treine Maandag in Pakistan gebots het. (Foto: Asif HASSAN / AFP)

Ingenieurs het Dinsdag die wrakke van twee treine in ’n afgeleë gebied in Pakistan gefynkam nadat ’n passasierstrein Maandag teen ’n stilstaande trein digby die stad Daharki gebots het.

Die stank van diesel, sweet en bloed het glo gisteraand nog oor die toneel gehang terwyl nooddienswerkers nog liggame uit die wrakke gebring het.

Die dodetal staan nou op 63.

Twee lyste is uitgereik waarin die name van 51 slagoffers bekend gemaak is. Die ander 12 is in dié stadium nog as onbekend gemerk. Die ouderdomme van die slagoffers wissel van ’n enkele maande oue baba tot ’n 81-jarige vrou.

“Dit is die mees kolossale ongeluk wat ek in ongeveer tien jaar gesien het,” het die spoorwegingenieur Jahan Zeb aan AFP gesê.

Die Pakistanse weermag en paramilitêre veldwagters is ook na die toneel ontbied om met die reddingspoging te help (Foto: AFP)

Maroela Media het vroeër berig die Millat Express het Maandag minute voor die ongeluk ontspoor en van sy waens het op die ander spoor te lande gekom. Die passasierstrein Sir Syed Express was in dié stadium op pad van Rawalpindi toe dit teen van die waens van die stilstaande trein, op pad van Karatsji na Sargodha, gebots het.

Dit is nie in dié stadium duidelik hoe die Millat Express ontspoor het nie. Sheikh Rashid, die huidige minister van binnelandse sake en voormalige minister van spoorweë, sê egter daardie gedeelte van die spoorlyn is “’n gemors”.

Ook die huidige minister van spoorweë, Azam Swati, meen daardie gedeelte is “uiters gevaarlik”.

Khan Mohammad, stasiemeester by die nabygeleë aansluiting, Reti, het gesê meer lewens kon gered word indien die Sir Syed Express net ’n paar minute later aangekom het.

Hy vertel dat hulle daarin kon slaag om ’n vasgekeerde dogtertjie van onder die stilstaande treinlokomotief te red voordat die passasierstrein aangekom het.

“As daar maar net ’n vertraging van ongeveer tien minute was, sou hierdie ongeluk afgeweer kon word,” het Mohammad gesê.

Die dubbele treinongeluk het omstreeks 03:30 plaaslike tyd plaasgevind. Die meeste van die 1 200 passasiers aan boord van die twee treine het na verwagting geslaap toe die treine gebots het.

Die ongeluk het intussen ’n debat ontketen oor die toestand van Pakistan se openbare vervoerstelsel. Die land se spoorwegnetwerk het oor dekades heen stelselmatig agteruitgegaan weens korrupsie, wanbestuur en ’n gebrek aan beleggers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Gert

Suid-Afrika is nie ver daar van af nie