Dodetal styg ná Russiese mynongeluk

Die myn in Siberië waar die ongeluk Donderdagoggend plaasgevind het. Minstens 52 mense is reeds dood. (Foto: AFP)

Die dodetal ná ’n ongeluk Donderdag by ’n Russiese steenkoolmyn in Siberië het tot 52 gestyg.

Onder die slagoffers is ook ses nooddienswerkers, wat glo weens ’n tekort aan suurstof versmoor het.

ʼn Strafregtelike ondersoek is intussen van stapel gestuur terwyl drie senior mynbestuurders glo vir veiligheidsoortredings aangehou word.

Maroela Media het vroeër berig dat daar 285 mense by die Listvyazhnaya-myn in die Kemerovo-streek naby die dorp Belovo was toe die ongeluk gebeur het. Meeste mense is glo uit die gebied verwyder, waarvan minstens 40 tans in die hospitaal behandel word. ʼn Noodreddingsoperasie is egter Donderdag uit vrese vir ʼn ontploffing gestaak.

Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie duidelik nie.

Luidens berigte deur Russiese media word daar vermoed dat stof in ’n ventilasieskag aan die brand geslaan en die myn met rook gevul het.

Die nuusagentskap RIA Novosti het aanklaers aangehaal wat sê dat ’n vonk moontlik tot ’n metaanontploffing gelei het.

Intussen word senior bestuurders van die myn, onder wie die direkteur en adjunkdirekteur, vir vermoedelike veiligheidsoortredings aangehou terwyl ’n strafregtelike ondersoek voortduur.

“Tydens die aanvanklike ondersoek is vasgestel dat die aangehoudenes nywerheidsveiligheidsvereistes oortree het,” het Rusland se ondersoekkomitee in ’n verklaring gesê.

Sergei Tsivilev, goewerneur van die streek, het ʼn rouperiode van drie dae aangekondig wat Vrydag begin het.

Inwoners van die dorp Gramoteino het vroeër die dag in sneeu en yskoue temperature buite die ingang van die myn saamgedrom.

AFP berig die skare was “gespanne” en het geweier om met joernaliste te praat.

Rusland se president, Wladimir Poetin, het die voorval intussen as ʼn “groot tragedie” beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank John

Dit kan enige plek gebeur

Chris dupreez

Dit moet nie gebeur nie. Mense moet in die tronk gegooi word vir oortreding van veiligheid vereistes en regulasies wat ander mense se lewens kos.