Dodetal styg ná ‘stuifmeelstorm’

Argieffoto: Pixabay.

Argieffoto: Pixabay.

Agt mense is reeds dood ná die frats-“asma”-donderstorm wat Victoria in Australië in November getref het.

Victoria se departement van gesondheid het bevestig Ranjith Peiris (57) is die agtste mens wat sterf na dié storm. Die skielike verandering van die temperatuur (koeler) het veroorsaak dat stuifmeel in kleiner deeltjies opgebreek en deur die donderstorm oor die hele staat versprei is.

Dié stuifmeeldeeltjies word maklik ingeasem en veroorsaak ernstige respiratoriese probleme vir asmalyers asook mense met stuifmeelallergieë.

Volgens die departement het meer as 8 500 mense op die noodgevalle-eenhede van hospitale in Victoria toegesak en nooddienste meer as sewe keer die gewone aantal oproepe ontvang.

“Dit was ʼn tragiese en onvoorsiene gebeurtenis. Sewe mense met asemhalingsprobleme en ander verwante toestande word nog tans in hospitale behandel,” het die departement Dinsdag gesê.

Peiris is al agt dae lank aan lewensondersteunende masjiene gekoppel nadat hy sy bewussyn tydens die storm verloor het.

Peiris se seun, Roshan, het sy pa probeer bybring terwyl die familie langer as ʼn uur vir ʼn ambulans moes wag. Roshan het aan Fairfax Media gesê dat sy pa nie kon asemhaal nie en dat hy met soveel moontlik krag mond-tot-mondasemhaling op sy pa toegepas het terwyl hulle gewag het.

Volgens Roshan het Peiris deurentyd afwisselend sy bewussyn herwin en weer verloor asook blou geword. “As ons geweet het dit sou so lank vat, kon ons self met hom deurgejaag het,” het Roshan gesê.

Ander slagoffers sluit in Omar Moujalled, ʼn 18-jarige wat binne enkele dae sy skoolloopbaan sou voltooi, en die 20-jarige regstudent Hope Carnevali.

Victoria se owerhede het bevestig dat hulle ʼn omvattende ondersoek na die nooddienste se reaksietyd van stapel sal stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria Van Dieweeck ·

Mense, wees net bly jul is nie in SA nie, veral sonder medies!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.