Dodetal styg ná tornado’s VSA-state tref

ʼn Lugfoto van huise en ondernemings wat op 11 Desember 2021 in Mayfield, Kentucky verwoes is (Foto: Scott Olson/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Geboue is platgevee, voertuie is omgekeer, bome is ontwortel … daar is eindtyd-tonele oral in die klein Kentucky-dorp Mayfield te sien.

Inwoners het Saterdag die omvang van die skade probeer bepaal ná ʼn rits tornado’s ses state in die VSA getref het. Meer as 80 mense is dood.

Die hoofstraat in Mayfield, ʼn dorp met sowat 10 000 inwoners, se ou rooibaksteen-geboue waarop inwoners eens trots was, is deur die storm verwoes. Die hofgebou het ʼn deel van sy dak verloor asook sy kloktoring. Twee nabygeleë kerke het groot skade opgedoen. Een van die kerke se dak het afgewaai.

Mitchell Fowler se restaurant was vir byna vier dekades ʼn familie-onderneming, totdat die tornado dit verwoes het. Die vensters is uitgeruk, die kombuis is beskadig, die dak het afgewaai en ʼn gedeelte van die buitenste muur het ineengestort.

Fowler het Vrydag, ná ʼn tornado-waarskuwing van plaaslike owerhede, die restaurant omstreeks 20:00 gesluit. Hy het sy werknemers aangesê om huis toe te gaan en het self teruggekeer huis toe, sowat 13 km buite die dorp.

“Nog voor ek by die huis aangekom het, was dit weg,” het Fowler oor sy restaurant gesê. “Dit was my restaurant. ʼn Familie-onderneming vir 38 jaar. Ek het my kinders daar grootgemaak. Dis ʼn absolute katastrofe,” het hy aan AFP gesê.

Fowler het Saterdag kos uit sy yskaste weggegee omdat daar grootskaalse kragonderbrekings is. “Ons probeer mense help wat dit nodig het.”

‘God is nog in beheer’

Hy het wel goeie nuus ontvang. Een van sy swaers was een van die 100 werknemers wat in ʼn plaaslike kersfabriek was toe die dak tydens die storm ineengestort het. Hy is Saterdagoggend uit die puin gered. “Hy leef; hy is in die hospitaal,” het Fowler gesê. “Ons is veilig. Dit gaan goed, en God is steeds in beheer.”

Die kersfabriek was ook ʼn familie-onderneming en werkers was hard aan die werk voor die naderende feesgety. Nooddienswerkers het Saterdag deur die puin na oorlewendes gesoek. Hulle het liggame uit die puin verwyder, aldus ʼn AFP-fotograaf op die toneel. Veertig mense is gered, maar die hoop vervaag vir diegene wat nog vasgekeer is. “Dit sal ʼn wonderwerk wees as enigiemand anders lewend gevind word,” het Kentucky-goewerneur Andy Beshear aan verslaggewers gesê.

Fowler (70) sê hy sal nie sy restaurant herbou nie. Hy gaan eerder aftree.

Langs sy restaurant het talle motors onderstebo of op hul sy gelê. ʼn Ou groen-en-wit-motor het wonderbaarlik die storm ontkom, maar die motorhuis se dak het weggewaai.

Die tornado het ʼn strook van sowat ʼn kilometer breed van die weste na die ooste chaos gesaai.

“Dit lyk of ʼn bom in ons gemeenskap afgegaan het,” het Mayfield-inwoner Alex Goodman aan AFP gesê.

‘Ons het nog nooit só iets beleef nie’

ʼn Amerikaanse vlag wapper te midde van die tornado-skade in Bowling Green, Kentucky (11 Desember 2021) (Foto: Gunnar Word/AFP)

“Ons het geweet dit kom, maar ons het nêrens gehad om heen te gaan nie,” sê David Norseworthy (69), ʼn inwoner wat konstruksiewerk doen. “Ons het nog nooit só iets hier beleef nie.”

Sy huis se dak en stoep is weg, maar die gesin het oorleef.

“Ons het ongeveer sewe minute lank by die skuiling gestaan en toe is dit verby. Dit het só vinnig gekom en gegaan.”

Vrywilligers het water, kos, babadoeke en warm klere uit aan inwoners uitgedeel voor ʼn koue Saterdagaand.

Ses sterf by Amazon-pakhuis

Minstens ses mense is dood toe ʼn tornado ʼn Amazon-pakhuis in Illinois getref het, het brandbestryders Saterdag gesê.

“Ons het 45 personeellede geïdentifiseer wat veilig uit die gebou gered is. Een van die persone moes na ʼn hospitaal geneem word vir behandeling. Ses mense is dood,” het James Whiteford, hoof van die brandweer in Edwardsville, Illinois, tydens ʼn perskonferensie gesê.

Jeff Bezos, hoof van Amazon, het Saterdag gesê sy hart breek oor die nuus. “Die nuus van Edwardsville is tragies,” het hy op Twitter geskryf. “Ons harte breek oor die spanmaats wat ons verloor het. Ons dink aan en bid vir hul families en geliefdes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

katerinadiekat ·

Ai dis tragies, so jammer vir hierdie mense! Maar dis die natuur, dit het en sal weer gebeur, dis die ding, mens kan niks doen om dit eens te probeer keer nie. My innige simpatie aan almal wat geliefdes verloor het, dis baie hartseer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.