Dodetal styg ná vliegtuig in woonbuurt neerstort

Foto: African News Agency

Foto: African News Agency

Minstens 20 mense is dood nadat ʼn Indonesiese lugmagvliegtuig in ʼn woonbuurt in die besige stad, Medan, neergestort het.

Die Hercules C-130-vliegtuig het Dinsdag met 12 bemanningslede aan boord neergestort. Plaaslike televisiestasies het beeldmateriaal gebeeldsaai van die brandende vliegtuig, wrakke van motors en ʼn gebou wat gedeeltelik verwoes is.

Sairi Saragih, woordvoerder van die Adam Malik-hospitaal, het gesê die hospitaal het aanvanklik vyf liggame ontvang, maar die dodetal het later tot 20 gestyg. Agus Dwi Putranto, bevelvoerder van lugmagbedrywighede, het gesê daar was 12 bemanningslede aan boord, maar dit is nie in hierdie stadium duidelik hoeveel ander passasiers ook aan boord die vliegtuig was nie.

Die vliegtuig het kort voor 12:00 neergestort enkele minute nadat dit by die Soewondo-lugmagbasis opgestyg het. ʼn Lugmaghoof het aan die plaaslike MetroTV gesê die vliegtuig, wat sedert 1964 deur die lugmag gebruik word, kon moontlik ʼn tegniese probleem ondervind het. Die vlieënier het glo gevra om terug te keer na Soewondo, maar die vliegtuig het regs gedraai en twee minute later ʼn gebou getref terwyl dit neergestort het.

Dit is die tweede keer in die afgelope tien jaar wat ʼn vliegtuig in Medan neerstort. In September 2005 het ʼn Boeing 737 van die Mandala-lugredery neergestort kort nadat dit by die Polonia-lughawe opgestyg het. Die vliegtuig het in ʼn besige woonbuurt geval en 143 mense is in die voorval dood.

Medan het ʼn bevolking van ongeveer 3,4 miljoen mense en is die derde grootste stad in Indonesië, naas Djakarta en Surabaya.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Ek ken ook net ‘n C-130. Ek dink hierdie kan maar aan swak / geen onderhoud toegrskryf word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.