Dodetal styg skerp in Indonesië, Oos-Timor

(Foto: Reynold Atagoran/AFP)

Reddingswerkers soek steeds onverpoos na tientalle vermiste mense ná die dodelike kitsvloede en modderstortings in Indonesië en Oos-Timor.

Die dodetal het reeds tot meer as 150 gestyg en duisende mense is ontwortel. Swaar reënval weens die tropiese sikloon Seroja het modderstortings tot gevolg gehad wat huise in puin gelê en bome ontwortel het.

Soek-en-reddingspanne gaan voort met hul pogings om minstens 70 mense wat nog vermis word, te probeer opspoor.

Hospitale, brûe en duisende huise is beskadig of vernietig deur die storm wat nou na die weskus van Australië beweeg.

“Daar is oor die volgende paar dae steeds die moontlikheid van uiterste weerstoestande (weens die sikloon),” het Raditya Jati, woordvoerder van die nasionale rampagentskap, gesê.

Die owerhede werk steeds daaraan om afgeleë gemeenskappe te ontruim en skuiling te bied vir diegene wat deur die storm ontwortel is.

Dodelike grondverskuiwings en kitsvloede kom gereeld tydens die reënseisoen oor die Indonesiese eilandgroep voor.

In Januarie het kitsvloede in Sumedang tot die dood van 40 mense gelei. In September verlede jaar is minstens 11 mense dood in grondverskuiwings in Borneo.

Volgens die Indonesiese rampagentskap woon 125 miljoen Indonesiërs – byna die helfte van die land se bevolking – in gebiede waar daar ʼn risiko is van grondverskuiwings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.