Reddingswerkers werk onverpoos om oorlewendes te probeer vind nadat ’n kragtige aardbewing van 7,2 Haïti vroeg Saterdagoggend getref het.
Haïti is in 2010 deur ’n verwoestende aardbewing getref wat die lewens van tienduisende mense geëis het.
Minstens 304 mense is reeds dood na Saterdag se aardbewing en meer as 1 800 beseer terwyl talle strukture ineengestort het. Hospitale in die streke wat die ergste deur die aardbewing getref is, sukkel reeds om noodhulp te verskaf en van die hospitale is reeds vol. Aanvanklik is aangekondig dat minstens 29 mense in die aardbewing dood is, maar die dodetal het vinnig skerp gestyg.
Die gesondheidsdepartement het spoedig gereageer en personeel en medisyne na die suidwestelike skiereiland gestuur. Die enigste pad wat die hoofstad met die suidelike helfte van die land verbind, loop egter deur ’n gebied wat sedert begin Junie onder streng beheer van gewapende bendes is nadat pres. Jovenel Moise op 7 Julie in ’n sluipmoordaanval dood is. Die polisie en militêre magte is ontplooi om te probeer help dat noodvoorraad slagoffers kan bereik.
Foto’s wat kort na die ramp op sosiale media begin versprei is, wys hoe mense wanhopig pogings aanwend om ander uit die puin van geboue te trek.
Ariel Henry, premier, is per helikopter vervoer om ’n oorsig van die skade te kry en het ’n maand lange noodtoestand afgekondig.
Kort ná die aardbewing het die Amerikaanse Geological Survey ’n tsoenamiwaarskuwing uitgereik, maar die waarskuwing is kort daarna teruggetrek.
Die VSA en ander lande was vinnig om steun te beloof vir Haïti. Die Amerikaanse president Joe Biden het onmiddellike hulppogings goedgekeur.
“In ’n tyd wat reeds baie moeilik is vir die mense van Haïti, is ek bedroef oor die verwoestende aardbewing,” het Biden gesê.
Haïti is in Januarie 2010 deur ’n aardbewing met ’n sterkte van 7 getref wat die hoofstad Port-au-Prince en nabygeleë stede byna platgevee het. Meer as 200 000 mense is dood en meer as 300 000 beseer.
Meer as 1,5 miljoen mense is haweloos gelaat na die aardbewing wat ’n omvangryke humanitêre krisis tot gevolg gehad het.