Dodetal styg skerp ná Portugal-brande

Brande in Portugal Foto: AP Photo/Armando Franca

Die dodetal is aangepas ná ‘n verwoestende veldbrand in sentraal Portugal.

Minstens 62 persone is dood, van wie talle in hul motors vasgekeer is toe die vlamme oor ʼn pad beweeg het.

Die eerste minister het Sondag gesê dit is die “grootste tragedie” wat die land in jare beleef het.

Portugal het drie dae van nasionale rou verklaar vir die slagoffers wat in die brand omgekom het.

ʼn Weerligstraal het vermoedelik die brand in die Pedrogao Grande veroorsaak nadat ondersoekbeamptes ʼn boom gevind het wat tydens ʼn “droë donderstorm” getref is, het die hoof van die nasionale polisie aan Portugese media gesê. Droë donderstorms vind plaas wanneer reën verdamp voor dit die grond tref, weens hoë temperature. Portugal, net soos talle ander suidelike Europese lande, beleef talle veldbrande in die droë somermaande.

Jorge Gomes, woordvoerder van die ministerie van binnelandse sake, het gesê 60 persone is dood in die vlamme en weens rookinaseming, en twee persone het tydens ʼn verkeersongeluk, wat met die brande verband hou, omgekom. Minstens 54 persone is beseer, insluitend vier brandbestryders en ʼn minderjarige wat ernstig beseer is, het Gomes aan die staatsuitsaaier RTP gesê.

Owerhede het vroeër gesê temperature van 40 grade Celsius het moontlik bygedra tot die brand, 150 km noordoos van Lissabon. Meer as 350 soldate het Sondag by die 700 brandbestryders aangesluit wat al sedert Saterdag sukkel om die brand te blus.

Die Europese Unie het gesê hy het sy burgerlike beskermingspoging ontplooi om Portugese owerhede by te staan. EU-kommissaris Christos Stylianides het sy meegevoel betuig en gesê “die EU is ten volle gereed om te help”.

Twee brandbestrydingsvliegtuie van Spanje en drie van Frankryk is reeds ontplooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Tragies! Ons het baie simpatie na ons Suidwes-Kaapse brande…

Lida ·

Dis waar Nico, op FB sien ek baie aanmerkings oor die Londen en Portugal brande, maar niks oor die SA brande nie. Dis asof SA van die map afgeval het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.