Dodetal styg steeds ná Haïti-aardbewing  

(Foto: Stanley LOUIS /AFP)

Die dodetal het tot meer as 1 200 gestyg ná ʼn kragtige aardbewing in Haïti terwyl reddingspanne wanhopig in die puin na oorlewendes soek.

Minstens 1 297 mense is dood in die aardbewing van 7,2 wat Saterdag ongeveer 160 km wes van die digbevolkte hoofstad Port-au-Prince plaasgevind het. Meer as 13 600 geboue is vernietig en ewe veel is beskadig. Honderde mense is in die puin vasgekeer en meer as 5 700 mense is beseer.

Intussen is daar kommer oor die tropiese storm Grace was op pad is, met vrese vir swaar reënval, kitsoorstromings en modderstortings.

Die VSA en ander lande het reeds onderneem om Haïti in die jongste ramp by te staan. Wendy Sherman, Amerika se adjunkminister van buitelandse sake, was Sondag met die premier van Haïti, Ariel Henry, in gesprek en het gesê die VSA het reeds hulpbronne gereed om die land se noodreaksie te versterk. Ander lande het reddingspanne en noodvoorraad belowe.

Die jongste aardbewing kom net ʼn maand nadat pres. Jovenel Moise in ’n sluipmoordaanval dood is. Die polisie en militêre magte is ontplooi om te probeer help dat noodvoorraad slagoffers kan bereik.

Haïti is in Januarie 2010 deur ’n aardbewing met ’n omvang van 7 getref wat Port-au-Prince en nabygeleë stede byna platgevee het. Meer as 200 000 mense is dood en meer as 300 000 beseer.

Meer as 1,5 miljoen mense is haweloos gelaat ná dié aardbewing wat ’n omvangryke humanitêre krisis tot gevolg gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Sandra

En ons dink ons het probleme