Dodetal styg steeds na massaskietery in Kanada

Blomme word neergelê vir die slagoffers van die massaskietery in Nova Scotia in Kanada. (Foto: Andrew Vaughan/The Canadian Press via AP)

Die onlangse massaskietery in Nova Scotia in Kanada het nou reeds 22 lewens geëis. Die dodetal het vandeesweek met nog vier gestyg, wat strook met die  polisie se verwagting met hul ondersoek van die misdaadtonele.

Die aanval se jongste slagoffers sluit in ’n 17-jarige tiener, ’n swanger gesondheidsorgwerker en ’n veteraan van die Royal Canadian Mounted Police, berig BBC.

Hoewel daar steeds geen motief vir die aanval bepaal is nie, het die polisie bevestig dat die skieter, Gabriel Wortman, sommige van sy slagoffers geken het. Die 51-jarige Wortman is kort na die aanvalle deur die polisie doodgeskiet.

Maroela Media het vroeër berig Wortman het hom oor die naweek as ʼn polisiebeampte voorgedoen en op ʼn moordtog gegaan in Nova Scotia. Die 12 uur lange aanval het laat Saterdagmiddag in die landelike dorpie Portapique, sowat 100 km van Halifax, begin. Die polisie daar het inwoners gewaarsku om hul deure te sluit en in hul kelders te skuil terwyl die aanvalle plaasgevind het.

Verskeie liggame is later binne en buite ʼn huis in die buurt waar die verdagte gewoon het, gevind.

Polisievoertuie het Sondag die snelweg in Enfield, Nova Scotia, versper. (Foto: Andrew Vaughan/The Canadian Press via AP)

Liggame is ook in ʼn radius van 50 km van waar die skietery aanvanklik begin het, gevind. Die owerhede glo die aanvaller het moontlik sy eerste slagoffers spesifiek geteiken, maar later blindweg aanvalle geloods. Wortman het ʼn polisieuniform gedra en sy voertuig aangepas om soos dié van die polisie te lyk. Hy was glo ook obsessief oor die polisie.

Die owerhede glo Wortman het alleen opgetree, maar het geen nota van hom gevind nie. Die polisie fynkam nog misdaadtonele om te bepaal watter wapens gebruik is.

Die polisie se ondersoek word bemoeilik deur die aantal brande wat gedurende die aanval gestig is.

Die hoof van die Royal Canadian Mounted Police, hoofsupt. Chris Leather, het voorheen gesê sommige van die huise is tydens die aanvalle aan die brand gesteek terwyl die slagoffers tuis was. Kanadese is weens die staat van algehele afsondering wat weens die Covid-19-pandemie geld, tot hul huise beperk.

Die volledige ondersoek sal waarskynlik maande duur.

Die skietery word bestempel as die dodelikste in Kanadese geskiedenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos ·

Nadat ek ‘n paar maande in Vancouver gewerk het, was dit nog altyd my hartsbegeerte om ‘n Kanadees te word. Nou weet ek nie meer so mooi nie, mens verwag eerder die soort van ding hierso.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.