Dodetal styg verby 100 ná tenkwa ontplof

Gesondheidswerkers dra ‘n doodskis tydens die massabegrafnis in Sierra Leone. (Foto: Saidu BAH / AFP)

ʼn Massabegrafnis is in Sierra Leone gehou nadat ʼn reuseontploffing oor die naweek by ʼn vulstasie in die hoofstad, Freetown, minstens 115 lewens geëis het.

Duisende roubeklaers het Maandag toegekyk hoe 85 liggame na ʼn begraafplaas aan die buitewyke van die stad geneem is om ter ruste gelê te word. Dié begraafplaas is vroeër gebruik om slagoffers van die Ebola-uitbrekings te begrawe.

“Ons is vandag hier om ʼn waardige begrafnis aan ons landgenote te gee,” het pres. Julius Maada Bio tydens die begrafnis gesê.

Die ontploffing het Vrydag meestal straatsmouse en motorfietsryers geëis toe ʼn voertuig by ʼn vulstasie ná ʼn botsing teen ʼn ander vragmotor aan die brand geraak het. Die vlamme het vinnig versprei en mense in voertuie en op paaie in die omgewing gebrand.

Volgens die Nasionale Rampbestuursagentskap is 91 mense tydens die voorval beseer van wie sommige baie ernstig.

Die land se gesondheidsowerhede het op hul beurt ʼn dringende beroep vir bloedskenkings gedoen om meer as 100 slagoffers te behandel wat ná die voorval met brandwonde in die hospitaal opgeneem is.

“Ons het dringend mediese voorraad nodig vir gevalle van kritieke brandwonde,” het dr. Moses Batima, adjunk-direkteur-generaal van die departement van gesondheid se agentskap vir mediese voorrade, aan AFP gesê.

Daar is veral ʼn tekort aan pynstillers, verbande en mediese toerusting om wonde te bedek.

Volgens Batima word mediese voorraad van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) én skenkings reeds ontvang. Dit is egter nie genoeg nie en plaaslike hospitale sukkel om die mas op te kom.

“Ons doen ʼn beroep op die internasionale gemeenskap om te help met mediese toerusting vir die ernstigste gevalle.”

Bio het Sondag weens die reuseontploffing drie dae van rou in Sierra Leone verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marisa W ·

“91 mense tydens die voorval beseer van wie sommige baie ernstig” maar “dringende beroep vir bloedskenkings gedoen om meer as 100 slagoffers te behandel wat ná die voorval met brandwonde in die hospitaal opgeneem is” – ek weet nie hoe dit werk nie, maar nietemin as ‘n land ‘n tekort het aan pynstillers, verbande en mediese toerusting om wonde te bedek vir 100 mense dan is dit vreesaanjaend – ek wonder hoe dit hier sal gaan as so iets gebeur…

marius ·

Waarom is daar tekorte aan mediese voorraad ? Het hulle ook dreksels wat veronderstel is om na die bevolking se belange te kyk ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.