Dodetal styg weens vloede in Europa

Erftstadt-Blessem ná ʼn modderstorting weens oorstromings. (Foto: Bezirksregierung Köln/AFP)

Die dodetal weens verwoestende oorstromings in Europa het Vrydag tot ten minste 126 gestyg, met 103 van dié sterftes wat in Duitsland opgeteken is.

Swaar reënval die afgelope paar dae het skielike stygings in watervlakke veroorsaak en talle huise het in duie gestort of weggespoel. Intussen is honderde mense steeds vermis, terwyl nooddienswerkers skarrel om verdere verwoesting hok te slaan.

ʼn Onbekende aantal mense is dood ná ʼn modderstorting in Erftstadt-Blessem in Noord-Rynland-Wesfale (NRW), terwyl minstens 43 mense hul lewens verloor het as gevolg van oorstromings in die gebied.

Plaaslike owerhede het Vrydag gesê ongeveer 1 300 mense is net in Rynland-Palts as vermis aangemeld, maar dat dié hoë syfer moontlik toegeskryf kan word aan beskadigde telefoonnetwerke wat mense verhoed om hul geliefdes te kontak. Owerhede vermoed dat net sowat 60 mense in werklikheid in dié deelstaat vermis word.

Minstens 24 mense is reeds in die dorp Euskirchen dood en een van die nabygeleë damwalle loop die gevaar om heeltemal pad te gee.

“Ek is bevrees ons gaan eers in die volgende paar dae die volle omvang van die verwoesting sien,” het Angela Merkel, kanselier van Duitsland, Donderdag vanaf Washington gesê voordat sy met die Amerikaanse president, Joe Biden, vergader het.

“My hart gaan uit na elkeen wat weens hierdie ramp geliefdes verloor het, of wat steeds bekommerd is oor die lot van diegene wat nog vermis word.”

(Foto: Bezirksregierung Köln/AFP)

Intussen het Duitsland se buurlande soos Luxemburg, Nederland en België ook gebuk gegaan onder swaar reënbuie en oorstromings.

België se dodetal het tot 23 gestyg en meer as 21 000 mense is sonder elektrisiteit. Die weermag is na vier van die land se tien provinsies ontplooi om nooddienswerkers by te staan en ontruimings te bewerkstellig.

Duisende mense in Maastricht, Nederland, moes ook ontruim word terwyl oorstromings steeds voortduur.

In Switserland het mere en riviere se vlakke ook oornag begin styg.

Volgens die wêreld meteorologiese organisasie het sommige dele van Wes-Europa binne twee dae die hoeveelheid reënval gekry wat gewoonlik oor die loop van twee maande hier val.

Daarbenewens het Gerd Landsberg, hoof van die Duitse vereniging van dorpe en munisipaliteite, gesê dat die omvang van die skade waarskynlik miljarde euro sal beloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tiptol ·

Dodetal in Europa dieselfde as in SA. Verskil is net wat dit veroorsaak het.

Santjie van Soendal ·

Al hierdie gebeure laat my maar net wonder wanneer ons Heiland ons gaan kom haal….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.