Dodetal van Florence-storm styg

Golwe slaan hard teen die Oceana-kaai in Atlantic Beach, Noord-Carolina (13 September 2018). Foto: Travis Long/The News & Observer via AP

Minstens 12 mense het gesterf in die tropiese storm Florence wat Noord- en Suid-Carolina aan die suidoostelike kus van die VSA Vrydagoggend (plaaslike tyd) as ʼn orkaan getref het.

CBS News berig minstens 12 sterftes is bevestig van mense wat in stormverwante voorvalle dood is. ABC News berig die dodetal staan reeds op 13. Owerhede het nog nie die amptelike dodetal bevestig nie, vermoedelik omdat reddingspanne steeds besig is om duisende mense uit die vloedwaters te red.

Teen 23:00 Saterdag (plaaslike tyd) was die storm sowat 90 km wes van Florence in Suid-Carolina en het dit teen 5 km/h in ʼn westelike rigting beweeg. Windsterkte het toe ook reeds aansienlik afgeneem sedert die storm die eerste keer getref het en maksimum windspoed was Saterdagaand 65 km/h.

Die storm het egter reeds wydverspreide verwoesting gesaai. Derduisende mense is sonder elektrisiteitstoevoer gelaat en talle is beseer. Geboue en ander strukture is uitmekaar geruk deur die sterk winde en talle bome is ontwortel en het paaie na woongebiede versper.

Vloedwater stroom deur Swansboro in Noord-Carolina (14 September 2018). Foto: AP Photo/Tom Copeland

Teen Saterdagmiddag is ʼn verpligte ontruimingsbevel uitgereik vir enigiemand wat binne 1,6 km van die Cape Fear-rivier en Little-rivier in Noord-Carolina woon. Inwoners is opdrag gegee om hul huise onmiddellik te verlaat te midde van stygende watervlakke en vrese dat rivierwalle kan meegee.

Inwoners wat in gebiede is waar ontruimingsbevele uitgereik is, het net kans tot 15:00 Sondag om die gebiede te verlaat. Sewe noodbehuisingsentrums is op die been gebring om die inwoners te huisves.

Die nasionale orkaansentrum het Saterdagmiddag gesê nog “katastrofiese oorstromings” word in albei state verwag. Reddingswerkers het van deur tot deur gegaan na huise in Noord-Carolina en by inwoners wat verkies het om die storm te trotseer gepleit om hul besluit te heroorweeg.

Reddingswerkers red ‘n gesin uit hul huis in New Bern, Noord-Carolina (14 September 2018). Foto: AP Photo/Chris Seward

Meer as 700 mm reën het reeds op sekere plekke in Noord-Carolina geval en minstens nog 450 mm word vir die res van die naweek verwag. Roy Cooper, goewerneur van Noord-Carolina, het inwoners gewaarsku dat dit lewensbedreigend is om ontruimingsopdragte te ignoreer.

“Die feit bly, hierdie storm is dodelik en ons weet ons is nog dae weg van die einde af,” het Cooper gesê.

Pres. Donald Trump het Saterdag sy medelye teenoor die oorledenes se naasbestaandes uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

IK ·

Ek verstaan dat die storm deur ‘n gebied trek wat redelike plat is see se kant toe. Water gaan dus op ‘n breë gebied tydelik opdam met groot skade. Daar word gesê dat 10 triljoen (amerikaanse) gallon water gaan neergiet. Dis sowat 38 triljoen liter. Dit sal die Vaaldam 14,6 keer vol maak!! Kom die slimmes, werk ook uit!?
Ek kan net meld dat kleiner bote verwyder word of vol water gepomp word. Alle kennisgewing-/inligtingsborde groter as ‘n sekere grootte word verwyder/afgehaal. Op die kant vd orkaan staan noodpersoneel gereed om die gebied te betree na die storm. Vensters en deure word met bordmateriaal toegemaak. Dit het ook al gebeur dat straatname met glimverf op die straathoeke se padoppervlakte geverf word want die straatnaamborde waai weg. Om ontruiming vd gebied glad en vinnig te laat verloop word selfs die rigting van paaie verander om sodoende ‘n eenrigtingverkeer te bewerkstellig uit die gebied. Strate word egter deurentyd per voertuig patrolleer om diefstal te voorkom asook mense wat hulp nodig het by te staan. Sou jy dus tuis bly is dit IN jou huis, dwaal jy rond sonder rede het jy moeilikheid.
Met so-iets by ons sou die woorde wees: ‘Eish, what must we do now??’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.