Dodetal weens vloede in Indië styg

‘n Motor ry deur vloedwater in Ahmadabad, Indië. Foto:(AP Photo/Ajit Solanki)

Die dodetal in Indië het tot 147 gestyg na swaar reën vloede en modderstortings veroorsaak het.

Dit is veral die state Kerala, Karnataka, en Maharashtra wat die ergste deurloop. Honderdduisende inwoners moes hul huise ontruim en is ontwortel.

Mense word in noodkampe gehuisves en treindienste is gekanselleer in gebiede waar die vloede voorkom.

Vloede is ʼn jaarlikse verskynsel in groot dele van Indië tydens die Junie-September-reënseisoen, wat as die moesonreën bekend staan.

Kerala is verlede jaar deur katastrofiese vloede getref wat tot die dood van meer as 220 mense gelei het.

In Pakistan is minstens 17 mense reeds weens die moesonreën dood. Groot dele van Karachi is onder water. Sewe mense het doodgeskok en drie mense is dood nadat ʼn dak inmekaargestort het.

Verlede maand is minstens 160 mense in Indië, Nepal en Bangladesj dood weens die moesonreën.

‘n Bus ry deur vloedwater in Karachi, Pakistan. Foto: (AP Photo/Fareed Khan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.