Dokter se liggaam naby waterval gevind

Kelsey Musgrove [Foto: Verskaf]

Die liggaam van ʼn 26-jarige mediese dokter wat verlede week vermis geraak het terwyl sy op ʼn staptog was, is in die noorde van Wisconsin, VSA, gevind. Sy het gaan stap en nooit weer teruggekeer nie.

CBS News berig Kelsey Musgrove het op 26 Maart die laaste keer met haar familie kontak gehad toe sy hulle laat weet het dat sy by Potato River Falls, ʼn waterval in Iron County, aangekom het.

Musgrove is vier dae later as vermis aangemeld nadat sy nie teruggekeer het na Middleton nie, het Paul Samardich, sheriff van Iron County, in ʼn persverklaring gesê.

Die polisie het Musgrove se voertuig in ʼn parkeerarea by Potato River Falls opgespoor en ʼn volskaalse soektog begin. Sowat 25 agentskappe het met die soektog gehelp.

“Alle aanduidings op die toneel en inligting van familie en vriende laat ons glo dat sy langs die Potato-rivier gaan stap het en nie na haar voertuig teruggekeer het nie,” het Samardich gesê.

Musgrove se liggaam is Sondag in ʼn gebied naby die waterval opgespoor. Die sheriff se kantoor sê vuilspel word nie vermoed nie. Die ondersoek na haar dood duur voort.

Musgrove was ʼn kardiotoraks-chirurg en genoot aan die Universiteit van Wisconsin se skool vir geneeskunde en openbare gesondheid.

Daily Mail berig die universiteit het in ʼn verklaring Musgrove se dood betreur.

“Ons is hartseer oor die verlies van ons kollega dr. Kelsey Musgrove,” het Emily Kumlien, die universiteit se woordvoerder, gesê. “Sy is deur haar eweknieë erken as ʼn uitstekende chirurg, ʼn uitstaande mentor en ʼn ongelooflike vriendelike en positiewe gees. Ons gedagtes en meegevoel is met haar vriende en familie in hierdie moeilike tyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Doringindiedam ·

Waarom is dit nuus? Dis nie nodig om te weet, belangrik om te weet of selfs goed om te weet nie. Daar sterf daagliks hordes mense ín SA. En julle skryf oor een persoon wat niks op aarde te doen het met ons nie. Swak joernaliste dalk?

Aanhouer ·

Haal af jou oogklappe. Jou wêreld bestaan nie eintlik nét uit Suid Aftika nie.

Chris ·

Siestog, en jy is die enigste een wat MM nuus lees? Wie se vir jou dis nie familie of vriende van een van ons lesers nie?

Annelize ·

MM “cater” nie net vir jou nie Doringindiedam. Baie MM lesers hou daarvan om nuusberigte te lees oor wat in ander dele van die wereld aangaan, ons gaan nie met verkrampe tonnelvisie en oogklappe deur die lewe nie.

piet ·

In ‘n mate stem ek saam. Hier op Maroela is die nuus effe deurmekaar en nie mooi afgebaken nie. Ek sou graag die belangrikste berigte (plaaslik en internasionaal) onder “Hoofberigte” wou lees, ander nuus kan dan onder “Ander Plaaslike Nuus” en “Ander Wereldnuus” aangebied word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.