Dokters in Engeland staak oor salarisse

Betogers hou plakkate omhoog tydens ʼn staking deur sogenaamde “junior dokters” by Trafalgarplein in Londen (11 April 2023) (Foto: Daniel Leal/AFP)

Dokters wat vir Engeland se staatsdiens werk het Dinsdag oor salarisse en werkstoestande begin staak. Dit word as die mees ontwrigtende staking in die land se geskiedenis beskryf.

Die vier dag lange staking het om 07:00 (0600 GMT) begin ná maande se stakings deur ander staatsamptenare en personeel in die privaat sektor waar inflasievlakke die Verenigde Koninkryk se ergste lewenskostekrisis in ʼn generasie veroorsaak.

Die staking deur sogenaamde junior dokters – dokters wat nog nie senior spesialiste is nie maar reeds jare se ervaring het, kom ná ʼn drie dag lange staking verlede maand en verskeie stakings deur verpleegsters.

Dit dreig om die grootste staking tot dusver te wees en honderde duisende afsprake is reeds gekanselleer.

Die dokters eis ʼn salarisverhoging van 35%. Hulle sê dit is nodig ná meer as ʼn dekade se salarisverminderings.

Hulle voer ook aan agterstand weens die pandemie, tesame met personeeltekorte, het die werkslading verhoog en plaas pasiënte in gevaar.

“Ons het ʼn yslike salarisvermindering gehad en ons moet allerhande gapings probeer vul omdat mense die bedryf verlaat,” het junior dokter Katrina Forsyth ná ʼn nagskof by St. Thomas-hospitaal in Londen gesê. Sy het bygevoeg sy huil soms ná skofte. “Dit raak al hoe meer onveilig vir pasiënte.”

Die regering voer aan die British Medical Association (BMA) se versoek is onbekostigbaar en ministers probeer om looneise reg oor die staatsdiens te hanteer te midde van hoë inflasie en ʼn stilstaande groeikoers.

Die verbruikersprysindeks het in Februarie na 10,4% gestyg – meer as vyf keer die doelwit wat die Bank van Engeland gestel het en naby aan die hoogtepunt die afgelope 40 jaar.

“Ek het gehoop dat ons verlede maand formeel met die BMA sal kan onderhandel oor salarisse, maar eise vir ʼn 35%-verhoging is onredelik,” het Steve Barclay, minister van gesondheid, gesê. “As die BMA bereidwillig is om beduidend weg te beweeg van sy posisie en die staking kanselleer, kan ons vertroulike gesprekke voortsit en ʼn pad vorentoe vind – net soos wat ons met ander vakbonde gedoen het.”

Barclay het verlede maand ʼn ooreenkoms vir ʼn 5%-verhoging voorgehou aan vakbonde wat verskeie gesondheidsorgwerkers, insluitend verpleegsters, verteenwoordig. Vakbondlede besluit tans of hulle dit wil aanvaar.

Die ooreenkoms dek egter nie junior dokters nie wat sowat die helfte van alle NHS-dokters verteenwoordig, aldus amptelike syfers.

Die huidige staking sal “enorme druk” op die diens plaas, het Stephen Powis, mediese direkteur by NHS Engeland, gesê. “Dit is ʼn omvattende staking wat grootskaalse ontwrigting gaan veroorsaak,” het hy aan BBC Radio gesê.

Die staking raak die NHS in Engeland, maar nie in die Verenigde Koninkryk se ander streke nie.

Tot 250 000 afsprake sal waarskynlik uitgestel moet word, aldus die NHS Confederation, wat die stelsel in Engeland, Wallis en Noord-Ierland verteenwoordig.

Huisdokters se praktyke is ook vir ʼn week lank gesluit, berig Britse media. Algemene praktisyns word betrek om pasiënte te help.

Powis sê die NHS “werk baie hard” om seker te maak dat nooddienste voldoende personeel het, maar die situasie blyk onseker te wees en “roetinesorg sal hierdeur geraak word”.

Phil Sutcliffe (75) van die suide van Londen is een van die pasiënte wat hierdeur geraak word. Sy kanker-opvolgbesoek is tot volgende maand uitgestel. Hy ondersteun egter die staking wat deur die BMA gereël is.

“Hierdie dokters doen ʼn fantastiese werk vir ʼn baie nederige salaris. Die regering moet na die onderhandelingstafel toe kom en begin gesels,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anna84 ·

Die hele wêreld is in algehele chaos. 5% verhoging?? Wat moet die mense daarmee maak. Dieselfde geld vir SA, die norm is 6-7% verhogings op een salaris, maar intussen gaan huur/huis paaiemente, brandstof, kos, krag en en en met meer as dit op. Al hoe meer mense gaan binnekort in algehele armoede leef.

Samuel ·

Dit is baie sleg dat dokters staak, maar ten minste brand hulle nie buitebande en breek af nie.

Delia ·

Samuel, pasiënte gaan steeds sterf en dis n groter krisis as brand en afbreek

Amelia ·

van die sa dokters soos een wat saam bester is woon in huise van r12miljoen (toemaar weet hier sit meer agter haar geval))

Republikein in die Wes Kaap ·

Die koning se duur kroning is nou hoofprioriteit. Die res moet wag. Dit sluit siek mense in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.