Dokters in Japan dagvaar Google Maps oor negatiewe kommentaar

(Argieffoto)

Ongeveer 60 dokters in Japan het Google Maps daarvan beskuldig dat hulle venynige kommentaar van hul klinieke ignoreer – ʼn hofgeding wat as die eerste van sy soort voorgehou word.

Die medici eis 1,4 miljoen jen ($9 000 en ongeveer R173 000) aan algehele skadevergoeding van Google in ʼn poging om die Amerikaanse tegnologie-titan aanspreeklik te hou vir ʼn gebrek aan optrede teenoor die resensies.

Hulle het die maatskappy Donderdag gedagvaar en sê hulle is magteloos om op die skadelike resensies te antwoord – of dit te weerlê – vanweë hul verpligting tot pasiëntvertroulikheid.

“Mense wat aanlyn plaas, kan enigiets anoniem sê, selfs al is dit niks anders as laster of verbale mishandeling nie,” het een van die dokters aan verslaggewers gesê.

“Dit is asof ek ʼn slaansak is,” het hy op voorwaarde van anonimiteit gesê.

Die saak by die distrikshof in Tokio is vermoedelik die eerste groepsgeding in Japan wat ʼn platform oor negatiewe aanlyn resensies teiken, het ʼn prokureur vir die eisers gesê.

“Ondanks die gemak waarmee dit geplaas word, is dit uiters moeilik om die resensies te verwyder,” het prokureur Yuichi Nakazawa aan AFP gesê.

“Dit kan daartoe lei dat dokters onder die voortdurende vrees vir moontlik beledigende resensies moet werk.”

Die doel van mediese instansies is nie om pasiënte tevrede te stel nie, maar om hul siektes vanuit ʼn professionele oogpunt te hanteer, lui die eisers se klagte.

“Klinieke wat aan pasiënte slegs ʼn toevallige diagnose gee en medisyne voorskryf soos versoek, sal medies onvanpas wees.”

Die aard van die werk kan dokters ook soms vatbaar maak vir aanlyn aanvalle deur pasiënte wat ʼn wrok koester, het eisers aangevoer.

As die situasie nie aangepak word nie, kan dokters “huiwer om ferm te wees en medies onnodige ondersoeke of medisyne wat deur pasiënte versoek word, te weier”. Dit doen die samelewing uiteindelik ʼn onreg aan, het Nakazawa gewaarsku.

Luidens die klagte word Google Maps so wyd in Japan gebruik dat dit as “infrastruktuur” vir die daaglikse lewe dien.

“Google behoort dus in staat te wees om die nadele vir mediese ondernemings ‘maklik te herken’ as onregverdige resensies nie aangespreek word nie.”

Die eisers het erken dat Google sommige Maps-resensies onder sy eie riglyne verwyder, maar die kriteria vir verwydering is ondeursigtig en “min daarvan word uiteindelik verwyder”, het hulle beweer.

Google het aan AFP gesê hy wend pogings aan om onakkurate en misleidende inhoud op Google Maps te verminder.

“Met die kombinasie van menslike operateurs en rekenaars, beskerm ons die profiel van ondernemings 24 uur per dag en onregverdige resensies word wel verwyder,” het die maatskappy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.