Dolfyne, seeskilpaaie vrek weens brandende Sri Lankaanse skip

Die karkas van ‘n seeskilpad word van ‘n strand in Sri Lanka verwyder. Talle skilpaaie en dolfyne in die omgewing het die afgelope ruk gevrek. (Foto: AFP)

Tientalle seeskilpaaie en dolfyne het gevrek vanweë die versengende hitte en chemiese vergiftiging weens ʼn vragskip wat byna twee weke lank langs die Sri Lankaanse kus gebrand het.

Die MV X-Press Pearl, wat in Singapoer geregistreer is, is sedert Junie gedeeltelik onder die water langs die kus van die eilandnasie nadat ʼn brand aan boord veroorsaak het dat tonne plastiek plaaslike strande verswelg.

Volgens wildleweowerhede het 48 dooie seeskilpaaie en agt dolfyne, asook talle klein vissies, die afgelope ruk op die land se westelike en suidelike strande uitgespoel.

“Om die beelde van dooie skilpaaie en dolfyne te sien, is geweldig ontstellend vir ons mense,” het Anil Jasinghe, sekretaris van die departement van omgewing, aan verslaggewers in Colombo gesê.

“Die karkasse wat ná die brand uitgespoel het, het duidelike brandmerke van die intense hitte van die skip gehad.”

Jasinghe sê voorlopige berigte dui ook daarop dat chemiese vergiftiging verantwoordelik was vir onlangse ontdekkings van nog dooie seeskilpaaie.

Outopsies word gedoen om die oorsaak van dood te bepaal.

Die owerhede ondersoek ook die oorsaak van dood van ʼn nege meter lange walvis langs die Jaffna-skiereiland, sowat 400 km noord van Colombo. Die walviskarkas het Dinsdag in die omgewing van Kayts uitgespoel.

Die skip, met onder meer 25 ton salpetersuur aan boord, was onderweg na Colombo van Gujarat in Indië af toe dit aan die brand geraak het.

Amptenare sê sowat 1 200 ton plastiekkorrels en ander rommel wat op strande opgetel is, word intussen in 45 vraghouers geberg.

Hulle het ook gewaarsku teen die uitwerking van mikroplastiekbesoedeling weens die land se “ergste mariene ramp”.

Sri Lanka eis skadevergoeding van $40 miljoen (sowat R562 miljoen) van die skip se eienaars, X-Press Feeders. Omgewingsaktiviste dagvaar die regering en X-Press Feeders vir beweerde versuim om die ramp te voorkom.

Die Sri Lankaanse polisie het reeds ʼn strafregtelike ondersoek na die skeepskaptein, hoofingenieur en hoofoffisier van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.