Dolly Parton ‘teen haar wil’ nou in Rock Hall of Fame

Dolly Parton (Maart 2022) (Foto: Michael loccisano/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die countrymusiek-legende Dolly Parton is Woensdag in die Rock and Roll Hall of Fame opgeneem selfs al wou sy nie dié eerbetoon gehad het nie. Sy reken sy is dit nie waardig nie.

Parton is deel van ʼn groep nuwe sterre wat onder andere die kletsrymer Eminem, die neuriesanger Harry Belafonte, rocker Pat Benatar, Britse musiekgroep Duran Duran en die popsanger, liedjieskrywer en vervaardiger Lionel Richie insluit.

Die 76-jarige Parton, bekend vir treffers soos “Islands in the Stream” en “Jolene”, het verlede maand versoek dat haar naam vir oorweging teruggetrek word.

“Alhoewel ek uiters gevlei voel en dankbaar is om genomineer te word, voel ek nie dat ek dié reg verdien nie,” het sy gesê.

Toe die Hall of Fame haar verwerping van die hand gewys het, gedeeltelik omdat stemmery reeds aan die gang was, het Parton uiteindelik toegegee.

Die Hall of Fame sê sy is veel meer as net ʼn country-ster.

“Haar luisterryke liedjieskryfloopbaan, unieke stem, campy bekoring, entrepreneuriese vaardighede en humanitêre werk, maak van Dolly Parton ʼn geliefde ikoon en oortref die genre wat sy vir altyd getransformeer het,” het die organisasie op sy webwerf gesê toe die nuwe lede aangekondig is.

Verskeie country-sterre is al vantevore ook in die Cleveland-gebaseerde Hall of Fame opgeneem, soos Johnny Cash, Jimmie Rodgers en Chet Atkins.

Ander nuwe sterre wat Woensdag aangekondig is, sluit in Carly Simon, die Eurythmics en Judas Priest.

Parton het in ʼn onderhoud met National Public Radio (NPR) gesê ná sy aanvanklik “nee” gesê het, sal sy dit “met grasie aanvaar” as sy tog ingesluit word. Volgens haar is die organisasie eintlik vir mense in die ruk-en-rol-genre.

“Ek het dus net gevoel ek wil nie iemand, wat dit verdien, beslis meer as wat ek dit verdien, van ʼn kans ontneem nie; ek het myself nooit as ʼn rock-kunstenaar beskou nie,” het Parton bygevoeg.

Musikante kan tot 25 jaar ná hul eerste kommersiële musiekvrystelling opgeneem word. Meer as 1 000 kunstenaars, musiekhistorici en bedryfsveterane neem aan die stemmery deel.

Die nuwe kunstenaars sal formeel tydens ʼn geleentheid in Los Angeles op 5 November amptelik opgeneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

melaney ·

Dolly het miljoene geskenk vir liefdadigheid. Sy hou nie alles vir haarself nie. Wens dié inligting word ook in die media bekend gemaak. En ja, sy KAN maar sing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.