Doodstraf vir moordenaar op ys weens ‘geloofsgronde’

Ramirez se teregstelling is tydelik opgeskort. (Foto: Caroline Groussain/AFP)

Die voltrekking van ʼn gevangene in Texas in die VSA se doodstraf Woensdagaand is op die nipper uitgestel nadat ʼn Amerikaanse hooggeregshof sy aansoek toegestaan het dat sy pastoor hom kan vashou terwyl hy sterf.

Ramirez word met ‘n dodelike inspuiting tereggestel.

“Die aansoek vir ʼn uitstel van die vonnis word toegestaan,” het die hof bevind. Geen rede is verskaf nie, ʼn algemene gebruik in dringende aansoeke.

John Ramirez (37) se vonnis sou Woensdagaand voltrek word nadat hy in 2004 tydens ʼn rooftog ʼn klerk in ʼn winkel doodgesteek het.

Seth Kretzer, Ramirez se prokureur, het die hooggeregshof gevra om die vonnis uit te stel omdat die departement van justisie in Texas (TDCJ) nie wou toelaat dat Ramirez se Baptiste-pastoor, eerw. Dana Moore, hom vashou terwyl hy sterf nie. Hy mag ook nie hardop in die vertrek bid nie.

“Die eerste probleem is dat eerw. Moore nie ingevolge die TDCJ se nuwe beleid sy hande tydens sy dood op Ramirez mag lê nie. Die tweede probleem is dat hy nie mag bid, praat, ʼn skriflesing doen, sy lippe beweeg of enigiets anders doen nie,” sê Kretzer.

“Met ander woorde, Moore word verplig om in sy klein hoekie van die vertrek soos ʼn potplant te staan.”

Ramirez se regsverteenwoordiger sê indien Moore hardop bid, kan hy moontlik gevra word om die vertrek te verlaat en moontlik vervolg word.

“Ramirez sal ter dood veroordeel word sonder die geestelike versorger wat ingevolge die grondwet vir hom gewaarborg word,” het hy gesê.

Die gevangenisowerhede in Texas laat ʼn geestelike versorger tydens die voltrekking van die doodstraf in die vertrek toe. Hulle moet egter stil wees en mag nie aan ʼn gevangene raak nie.

‘n Argieffoto van John Ramirez. (AFP/TEXAS DEPARTMENT OF CRIMINAL JUSTICE/HANDOUT)

Die hooggeregshof gryp selde in om teregstellings te stop, maar het dit die afgelope ruk in sake gedoen waar gevangenes aangevoer het dat hulle reg op toegang tot ʼn geestelike versorger van hul ontneem word.

In Ramirez se geval is die aansoek toegestaan sonder dat die hof redes verskaf het en net gesê is hy sal die meriete van die saak in Oktober of November oorweeg.

Die hof van Ramirez se saak gebruik om sy posisie oor die geloofsregte van ter dood veroordeelde gevangenes duidelik te maak.

In 2018 het die hof die aansoek van ʼn Moslem-gevangene van die hand gewys wat gevra het dat ʼn imam tydens sy teregstelling by hom is. Ná groot openbare woede daaroor is toestemming in ʼn soortgelyke aansoek aan ʼn gevangene gegee dat ʼn Boeddhiste-versorger saam met hom na die vertrek gaan waar hy tereggestel gaan word.

Vanjaar het die hof bevind die staat kan nie geestelike versorgers summier verbied om ter dood veroordeelde gevangenes by te staan nie.

Die hof het gesê hy sal later vanjaar weer na Ramirez se aansoek kyk.

Vyf mense is vanjaar al in die VSA tereg gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Drikus

Eish, ons kort die doodstraf in ons Land. 10/10 vir Texas!!

Linda

Ons regstelsel is nie sonder foute nie, wat as n verkeerde persoon veroordeel word ?

JM

Uitsteltaktiek deur Ramirez; die inspuiting kom gewis, net later . . .

Frederik C

As al die moordenaars in SA met inspuitings tereggestel word, sal dit lyk soos ‘n Covid stormloop.

Jax

Hy het geen regte nie. Hy het besluit om lewens te verwoes. Hy moet maar die gevolge daarvan dra sonder sy sogenaamde regte! Bring die doodstraf terug en ons sal baie minder hartseer beleef. Te veel regte vir mense wat ander mense nie die reg gun om te mag leef nie. Ek het zero simpatie met die monster!