Dooie perde, afval en blare: groeiende hongersnood in Gaza

Ontwortelde Palestyne wag vir kos in Rafah, in die Gaza-strook, te midde van voortgesette konflik in die gebied. (Foto: AFP)

By die Jabalia-vlugtelingskamp in die noorde van Gaza, was Abu Gibril só desperaat om sy gesin te voed dat hy twee van sy perde geslag het.

“Ons het geen ander keuse gehad as om die perde te slag om die kinders kos te gee nie. Die honger maak ons dood,” het hy aan AFP gesê.

Voor die oorlog, wat uitgebreek het ná Hamas-vegters se aanval op die suide van Israel op 7 Oktober, was Jabalia die grootste kamp in Palestynse gebied. Volgens Israel het sowat 1 160 mense in dié aanval gesterf.

Die 60-jarige Gibril het uit die nabygeleë Beit Hanun gevlug toe die konflik uitgebreek het. Vir hom en sy gesin is hul huis nou ʼn tent naby wat vantevore ʼn VN-skool was.

Besmette water, kragonderbrekings en oorbevolking was vantevore al ʼn probleem in die dig bevolkte kamp wat in 1948 opgerig is en oor ʼn gebied van nagenoeg 1,4 km² strek.

Armoede weens hoë werkloosheid was ook ʼn reuseprobleem vir die meer as 100 000 mense daar.

Nou is die kos besig om op te raak. En weens voortgesette bomaanvalle en die waansinnige plundering van die enkele vragmotors wat die gebied probeer binnekom, is noodlenigingsgroepe se hande afgekap.

Die Wêreldvoedselprogram het verlede week gesê sy spanne het “ongekende vlakke van desperaatheid” aangemeld, terwyl die Verenigde Nasies (VN) gewaarsku het dat 2,2 miljoen mense op die rand van hongersnood huiwer.

Vrydag het die departement van gesondheid in die Hamas-beheerde Gaza gesê ʼn twee maande oue baba is weens wanvoeding in ʼn hospitaal in Gazastad dood. Dit is sowat 7 km van Jabalia.

In die geheel het byna 30 000 mense sedert die aanvang van die oorlog reeds in Gaza omgekom, aldus die Hamas-beheerde departement.

Vullisrapery en bedel

‘n Man staan langs die draad om ‘n kamp vir ontheemde Palestyne. (Foto: Mohammed Abed/AFP)

In die kamp wag verslonste kinders hoopvol met plastiekhouers en gehawende kookpotte in die hand vir die bietjie kos wat wel beskikbaar is. Die voorraad word al minder en die prys van kos al hoe meer. ʼn Kilogram rys, byvoorbeeld, het van ₪7 (sowat R37) tot ₪55 (sowat R295) opgeskiet.

“Die grootmense sal dit nog maak, maar hierdie kinders is vier en vyf jaar oud. Wat het hulle verkeerd gedoen om honger te gaan slaap en weer honger op te staan,” het een man woedend gevra.

Kinders speel in een van die vlugtelingkampe in Gaza. (Foto: AFP)

Unicef, die VN se kinderagentskap, het gewaarsku die kommerwekkende gebrek aan kos, stygende wanvoeding en siektes kan tot ʼn “ontploffing” in kindersterftes in Gaza lei.

Een uit elke ses kinders jonger as twee in Gaza is akuut ondervoed, was die raming teen die middel van Februarie.

Inwoners eet nou afvalstukkies verrotte mielies, dierevoer wat ongeskik vir menslike gebruik is, en selfs blare om die ergste hongerpyne te stil.

“Daar is geen kos nie, geen koring nie, geen drinkwater nie,” het ʼn vrou gesê.

“Ons het by die bure vir geld begin bedel. Ons het nie ʼn enkele sjekel by die huis nie. Ons klop aan deure, maar niemand gee vir ons geld nie.”

Sterf van honger

‘n Seuntjie stoot ‘n ander kind in ‘n tuisgemaakte waentjie in Rafah. (Foto: AFP)

In Jabalia loop die gemoedere hoog oor die gebrek aan kos en die gevolge daarvan en Vrydag het tientalle mense vir ʼn spontane betoging saamgekom.

Een kind het ʼn plakkaat vasgehou wat lui: “Ons is nie in lugaanvalle dood nie, maar ons sterf van die honger.”

Nog een se plakkaat het gelui “hongersnood vreet aan ons”, terwyl betogers plakkate omhoog gehou het waarop staan: “nee vir hongersnood, nee vir volksmoord, nee vir die blokkade”.

‘n Kamp vir Palestyne in Gaza. (Foto: Mohammed Abed/AFP)

In Beit Hanun het Abu Gibril vantevore sy twee perde gebruik om ʼn stuk grond te bewerk. Maar die konflik het dit verwoes en daarmee saam ook sy huis – en hom gelaat met niks nie.

Oor die afgelope weke en maande het Israel se bombardering Gaza in puin gelaat, ʼn plek van verwoeste beton en gebroke lewens.

Gibril het die ingrypende besluit om sy perde te slag liefs vir homself gehou; hy het die vleis saam met rys gekook en dit aan sy onwetende familie en bure voorgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ryan ·

Ek dink die jode kan nou maar ophou. Hulle het reeds oormatige straf uitgedeel.

Lesly ·

Betreurenswaardig, maar die wereld, SA ingesluit, het nie veel van ‘n bohaai gemaak toe Israel aangeval is vanuit Gaza en honderde mense wreedaardig en koelbloedig vermoor is nie. “Payback time” soos die Engelse sal se

Keelvol ·

In plaas daarvan rapporteer eerder oor die gyselaars se kondisies.

Anel ·

Wel, mens voel jammer vir die kinders maar die mense het nie teen Hamas op gestaan nie. As Hamas nie die Israeliete aan geval het nie, sou die nie gebeur het nie. Word daar nou van Israel verwag om hande gevou te sit en toe kyk hoe sy burgers vermoor word? Wie sal dit doen? So die hongersnood moet vietkantig voor Hamas se deur gelê word!!!!

Hendrik ·

Eenvoudig, onder hd aaklige omstandighede van hongersnood, menseskagting behoort beide kante seker besef om te onderhandel. Hamas gee egter nie in nie. Die tragedie is hul word deur magte van buite misbruik om Israel uit te wis. Watter rol vertolk Iran in hd grenslose tragedie?

Danie ·

Daar kom n tyd en n uur wanneer genoeg is genoeg. Nou lei onskuldige kinders daar onder. Dit is maklik vir ons om te se die mense moes teen Hamas opgestaan het. Staan ons op teen die ANC nee en hulle vermoor ons nog nie soos wat Israel hulle vermoor nie. Ek voel Israel het reg opgetree maar waar wil hul die streep trek. Deur kinders te vermoor wat n bestaansreg het is net so skuldig as diegene wat aborsie toelaat. Daai kind het geen kennis van wat om hul aangaan nie. As Israel dan Hamas wil uithaal dan gebruik jy jou spioene om hul uit te sniffel en dan tree jy op. Israel sal verantwoording moet doen vir hul dade teenoor onskuldige kinders. God sal dit nie laat verby gaan nie.

Andries ·

Vra die man wat se kinders honger ly of hy nog steeds Hamas steun en hy sal nog steeds Hamas help. Die palestyne is net so gebreinspoel soos die gepeupel in ons land.

Republikein in die Wes Kaap ·

Moeders en vrouens kon/kan hul seuns, mans en broers aanmoedig om Hamas te los. Israel wil en gaan Hamas vernietig. Die leierskap gaan gejag en gestraf word.

Michael ·

Hoekom het die Palestyne nie hamas ontroon nie ,ek stem 100% saam met Israel wis die terroriste uit of hulle gaan weer onskuldige mense aanval en vermoor.

Realis Thailand ·

Die wereld is gaande oor die Gazans maar toe Hamas die Israelis aangeval het en vermoor het het die Palestyne gejuig
Hulle het vir Hamas gestem en aan bewind gehou.
Die kinders word indoktrineer e n wanneer hulle volwasse is veg hulle saam met Hamas, al la EFF wie almal gebore is na 1990.
Ek het nie enige simpatie vir die Gazans nie en hulle moet maar in n spieel kyk wie om te blameer vir die probleme in Gaza

Dokter Pieter ·

Hamas het hulself probeer verdedig teen die Sioniste. Nou gebruik die Sioniste die Hamas aanval as verskoning om hul plan uit te voer, nl om die Palestyne uit die beloofde land uit te dryf.

annie ·

Hamas sal sekerlik ook ‘n rolprent vir die Oscars inskryf soos die een oor die Oekraïne. Leuens kry mos groot pryse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.