Doris Day sterf op 97

Doris Day (Foto: AP Photo, File)

Die legendariese Amerikaanse sangeres en aktrise Doris Day is Maandag in die ouderdom van 97 dood.

Die Doris Day diere-stigting, ʼn instelling wat sy in 1978 gestig het, het aangekondig dat Day vroeg vanoggend by haar huis in Carmel Valley in Kalifornië dood is. Sy was ten tyde van haar dood omring deur vriende.

Luidens die verklaring was Day in ’n goeie fisieke toestand vir haar ouderdom. Sy het egter onlangs longontsteking opgedoen wat eindelik tot haar dood gelei het.

Sy het by ʼn Cincinnati-radiostasie begin sing, daarna in ʼn nagklub en toe in New York waar sy in 1939 haar verhoognaam verander het na Day, na die liedjie “Day after Day”.

Day was een van die gewildste aktrises en sangeresse in die 1950’s en 1960’s. Sy was veral bekend vir haar rolle in Pillow Talk, That Touch of Mink asook die liedjie “Whatever Will be, Will Be” (“Que sera, sera”) uit die Alfred Hitchcock-rolprent The Man Who Knew Too Much.

Doris Day (Foto: AP Photo, File)

Hoewel Day nooit ʼn Oscar-toekenning gewen het nie, het sy wel die Presidential Medal of Freedom in 2004 verower. Die voormalige president George W Bush het destyds verklaar dat “dit ʼn goeie dag vir Amerika was toe Doris Marianne Kappelhoff van Evanston, Ohio, besluit het om mense te vermaak.”

Doris Day: Her Own Story, ʼn boek oor haar lewe waarin sy geheime oor finansiële probleme en drie mislukte huwelike verklap het te midde van haar roem, het in 1976 verskyn.

Day is daardie jaar op die ouderdom van 52 vir die vierde keer getroud met die sakeman Barry Comden en het sedertdien in Kalifornië gewoon.

Day het haar vermaakloopbaan in die 1980’s beëindig waarna sy haar vir diereregte beywer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jacques die Goodwoodianer ·

Wat ñ legende.

“Whatever will be, will be…”

Ben ·

Weet nie Max….Wens Maroela het n foto geplaas, hoe lyk sy op 97! Maar ek het van haar gehou en haar films geniet!

Stella ·

Ek het baie van haar gehou,en die flieks waarin sy te sien was,veral saam met Dean Martin

Connie ·

So hartseer dat al die ou legendes nie meer met ons is nie.

Willie ·

Ja Max, die gesegde- dis verby Doris Day… Pragtige mens gewees..

anton ·

Ja niemand leef vir altyd op die aarde nie. Ons almal het n verval datum.
Ek wil nie so oud word nie veral nie in S.A nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.