Dosyne steeds vermis ná China-gebou ineenstort

ʼn Lugfoto wys reddingsbeamptes op die toneel waar ʼn ses verdieping hoë gebou in Changsha, China, ineengestort het (29 April 2022) (Foto: CNS/AFP/China Out)

Meer as 40 mense was teen Sondagmiddag nog vermis nadat ʼn gebou in Hunan in China Vrydagmiddag ineengestort het. Dié gebou het ʼn hotel, woonstelle en ʼn fliekteater gehuisves.

Nóg twee oorlewendes is Sondagmiddag uit die puin gered, wat die reddingsgevalle op agt te staan bring. Daar is egter vermoedelik nog 16 mense in die gebou vasgekeer, terwyl ʼn verdere 40 nog nie ná die voorval gekontak kon word nie.

Meer as 50 uur ná die reddingspoging van stapel gestuur is, is nog twee persone Sondagaand uit die puin gered.

Een persoon is die oggend gered terwyl ʼn vrou die aand uit die puin gehaal is. Dit volg nadat reddingswerkers vroeër daardie middag “tekens van lewe” opgemerk het.

“Die vrou was by haar positiewe toe sy gevind is. Haar lewenstekens was redelik stabiel en sy kon ’n normale gesprek met redders voer,” het ’n CCTV-verslaggewer op die toneel gesê en bygevoeg die vrou was deur ’n muur van een meter breed van redders geskei.

Die Changsha-polisie het gesê nege mense – onder wie die gebou se eienaar en ’n span veiligheidsinspekteurs – is Sondag in verband met die ongeluk in hegtenis geneem. Hulle het beweer dat landmeters ’n veiligheidsoudit van die gebou vervals het.

Die owerhede het nog nie ʼn oorsaak vir die ramp bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jacobus ·

Dis jammer van die mense wat in die ongeluk omgekom het, maar hierdie is dalk net nog ‘n bewys van die gehalte van, “Made in China”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.