Dove-advertensie ‘nie rassisties’, sê model

Lola Ogunyemi, ‘n model in die omstrede Dove-advertensie (Foto: Facebook)

Lola Ogunyemi, die swart model wat in die omstrede Dove-advertensie te sien was, het in reaksie op die erge kritiek wat dié advertensie ontlok het gesê dat die advertensie nie swart vroue verkleineer nie, maar eerder etniese diversiteit vier.

Maroela Media het vroeër berig ʼn herrie het rondom Ogunyemi ontstaan nadat Dove ʼn 30-sekonde lange video op Facebook geplaas het van Ogunyemi wat haar bruin hemp uittrek om ʼn wit vrou met ʼn ligter hemp te onthul, waarna dié vrou haar hemp uittrek om ʼn Asiese vrou te onthul.

“Ek voel nie dat dit rassisties was nie,” het Ogunyemi Woensdag in ʼn onderhoud met die BBC gesê.

Baie sosialemediagebruikers het gesê die advertensie beeld die wit vrou as skoner en mooier as die swart vrou uit, maar Ogunyemi meen die skermgrepe wat tans op Facebook en Twitter versprei word is nie verteenwoordigend van die advertensie nie. Sy het gesê die meeste skermgrepe vertoon net foto’s van haarself en die wit vrou, maar dit laat die Asiese vrou uit.

‘n Skermgreep uit Dove se advertensievideo wat op sosiale media versprei word (Foto: Twitter)

Ogunyemi het gesê die Facebook-advertensie is slegs ʼn deel van ʼn 30-sekonde video wat gemaak is as ʼn televisie-advertensie en dat dít ander prente en woorde bevat het wat die doel van die advertensie duideliker gemaak het. Sy het gesê die bedoeling was om te sê dat alle vroue waardig is om produkte van goeie kwaliteit te gebruik. “Die skermgrepe wat die media op hol het skets ʼn ander prentjie,” het sy gesê.

Ogunyemi, ʼn Nigeriër wat in Brittanje gebore is en in die VSA grootgeword het, het gesê sy was baie “bewus van die samelewing se opinie oor donkervellige mense, veral vroue” toe sy grootgeword het, “en veral dat mense dink ons sal beter lyk as ons velle ligter was”.

Dove het Saterdag om verskoning gevra oor die advertensie.

Ogunyemi het gesê sy dink Dove kon hulself beter verdedig het deur die narratief agter die advertensie te verduidelik. Sy het egter bygevoeg dat Dove die risiko’s in die advertensie moes raaksien, veral omdat die maatskappy al in die verlede soortgelyke probleme ondervind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Gift ·

Het heeltyd gewonder wat die model gaan se want as sy gevoel het dit is rassisties sou sy mos nie in die advertensie gespeel het nie? Dit is die oorsensitiwiteit oor ras en minderwaardigheidskompleks en wraakgierigheid van mense wat die advertensie wil verdraai sodat dit rassisties voorkom. Baie bly sy het die mening gehuldig.

Ronel ·

My eerste gedagte toe ek die advertensie was, dat dit nogal goed gedoen was om uit te beeld dat die produk geskik is vir alle velsoorte, maar weereens het iemand RASSISME geskreeu en almal sien net dit raak.

Elize C ·

Presies wat my reaksie ook was Ronel, ek het nie vir een oomblik gedink Dove suggereer dat die produk ‘n donkerder etniese vel ligter gaan kleur nie, slegs dat dit geskik is vir alle tipes velle. Presies wat ek ook dink: iewers het iemand wragtag niks beters om te doen as om te kyk waar en hoe kan hulle iemand – al is dit ‘n advertensie – bykom met die rasse-snert. Ek is oortuig 99% mense van alle rasse wie na die advertensie gekyk het, het nooit gedink aan ras tydens die advertensie nie. Dit was net bloot ‘n vloeiende advertensie van een tipe vel na die volgende. Ai……

Stephen Namibia ·

Vir eens stem ek saam met die kritiek op die advertensie. Die maatskappy en die bestuur moes darem geweet het die advertensie sal negatiewe kritiek ontlok.
Bestuurders op hierdie vlak moet bewus wees van die sensitiewe rasse situasie in SA toe hulle hierdie sotlike advertensie goedgekeur het.

Eish ·

Ek stem heelhartig saam met jou. In die tydsgleuf waarin ons leef is die punt baie kontroversieël. Geen wonder die model sien dit nie so in nie. In Nigerië gebore en in Brittanje grootgeword. Afrika is in totaliteit uit haar sisteem uit, vandaar haar kommentaar. Westers.

Williew ·

Dit is nie ‘n Suid Afrikaanse advertensie nie. Dis internasionaal,die model is in VK gebore en werk in VSA. Daardie mense is nie so ras behep as huidiglik hier die geval is nie.
Vader weet,as almal maar net trots op hul ras was en nie so minderwaardig voel nie sal rassisme die dood vrek wat dit verdien….

simon ·

Ja asseblief, se vir die mense hulle moet nou oor hulself kom. Niemand het gese enige vel kleur is beter as n ander nie.

gatiep ·

Dit is net ware rassiste wat wat altyd alles as rassisties sien.

Adam ·

Wat ek wel weet is dat die advertensie defnitief seksisties is. Hoekom is daar nie ‘n man in die skermgrepe nie. Ons is mos nou glo metro-mans, a nee a!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.