Drake sê hy bid vir slagoffers van konsert

Blomme is neergelê voor die ingang van die musiekfees waar agt mense tydens ‘n stormloop dood is. Foto: Alex Bierens de Haan/ Getty Images via AFP)

Die kletsrymer Drake het Maandag op Instagram geskryf hy bid vir die families en vriende van die agt slagoffers wat Vrydagaand tydens ’n konsert van die kletsrymer Travis Scott dood is.

Drake het daardie aand saam met Scott op die verhoog in die Amerikaanse deelstaat Texas gestaan toe ’n stormloop in die gehoor ontstaan het. Agt konsertgangers is dood en talle beseer tydens dié stormloop.

Drake is ná die konsert saam met Scott gedagvaar vir hul aandeel in die chaos.

CBS News berig Scott het aangebied om die begrafniskoste van die oorledenes te betaal.

“My hart breek vir die families en vriende van diegene wat hul lewens verloor het. Ek sal aanhou bid vir almal van hulle, en sal op enige manier wat ek kan van diens wees vir hulle… Mag God met hulle almal wees,” het Drake op Instagram geskryf.

CNN berig ’n negejarige seun wat ook in die gehoor was, is tans in ’n geïnduseerde koma. Vyf van die beseerdes was teen Maandag steeds in die intensiewe sorgeenheid.

Veiligheid by feeste

Die oorledenes se families en ander feesgangers meen Scott en die feespersoneel het nie genoeg gedoen om die chaos te voorkom of te stop nie.

Die 21-jarige Axel Acosta – een van die konsertgangers wat dood is – se familie doen regstappe. Sy pa, Edgar, het gesê dat die inrigting van musiekfeeste moet verander.

Die prokureur Tony Buzbee verteenwoordig die Acosta-gesin en ten minste 35 ander gesinne. Buzbee het gesê die fees was “ongelooflik swak beplan”.

“Daar is geen ag geslaan op die veiligheid van hierdie jong mense nie,” het Buzbee gesê.

Volgens CBS is ʼn veiligheidsplan deur die feeskomitee ingedien, maar nêrens verwys hulle na ’n plan indien ’n stormloop sou ontstaan nie.

Paul Wertheimer, ʼn nasionaal erkende skareveiligheidskenner, het gesê die feit dat hulle nie aandag gegee het aan die moontlikheid van ʼn stormloop nie, laat verskeie vrae ontstaan.

“As hulle nie daaraan aandag gegee het nie, dan het hulle nie aandag gegee aan die noodreaksie indien iets verkeerd sou loop nie,” het Wertheimer gesê.

Troy Finner, Houston se polisiehoof, het gesê hy het Scott voor die vertoning gewaarsku teen ʼn reeds rumoerige skare. Daar is steeds vrae oor hoe die konsert toegelaat is om só hand uit te ruk.

Wertheimer het gesê plaaslike owerhede moes die vertoning binne vyf minute gestaak het toe die stormloop ontstaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Linki ·

Mees demoniese sirkus wat ek nog gesien het. Vir wie bid Drake? Uit die hel saamgestel.

Rooikoos ·

Jy het my voorgespring Linki. Sy god is beslis nie ons God nie.

Maggies ·

Wat soek sulke jong kinders by hierdie tipe opvoerings? Dit lyk kompleet asof dit uit die hel uit kom.

Hasie ·

Wat maak ‘ n nege jarige by musiek konsert .Hy behoort by die huis in die bed te wees …nie tekere te gaan nie . Sy ouers moet maar die verantwoordelikheid aanvaar vir dom besluite.

Mathys ·

Die persentasie van feesgangers, wat oorlede is, is hoër as die persentasie…..
Miskien moet alle feesgangers in die toekoms met volle ridder toerusting na konserte gaan?
Chris do Burg gaan nie bly wees nie, maar die opposisie is bewys dat die goeie, wetenskaplikke maatreëls werk. Net mense wat boos, onwetenskaplik nie kan wegsteek dat hulle wens ander moet doodgaan, sal probleme hê daarmee

Astrain ·

Die ouers van hierdie minderjarige kinders behoort ook verantwoordelik gehou te word…dwelms, kletsrymer, drank…klink vir my na die perfekte storm!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.