Dramatiese wending in Djokovic-sage  

Novak Djokovic (Foto: Andrej ISAKOVIC/AFP)

Australië het die tennisster Novak Djokovic se visum gekanselleer in ʼn dramatiese ommekeer.

Die Serwiër het vroeër die week in Melbourne aangekom nadat hy op sosiale media bekend gemaak het dat hy ʼn mediese vrystelling het om in die Australiese Ope te speel sonder bewys dat hy ten volle teen Covid-19 ingeënt is.

Dié vrystelling, wat deur die Australiese Ope-organiseerders toegestaan is nadat sy aansoek deur twee mediese panele goedgekeur is, het woede ontketen onder Australiërs wat vir die afgelope twee jaar onder Covid-19-inperkings en -beperkings gebuk gaan.

Die negemalige Australiese Ope-kampioen het egter nooit verby grensbeheer gekom nie.

“Mnr. Djokovic het versuim om toepaslike bewyse te verskaf om aan die toegangsvereistes van Australië te voldoen, en sy visum is daarna gekanselleer,” het die Australiese grensbeheerowerheid in ʼn verklaring gesê.

“Nie-burgers wat nie ʼn geldige visum by aankoms het nie of wie se visum gekanselleer is, sal aangehou en uit Australië verwyder word.”

Djokovic is oornag by die lughawe gehou waarna hy en sy span verskuif is. Dit is nog onduidelik wanneer hy die land sal verlaat.

Verskeie plaaslike media het berig Djokovic se regsverteenwoordigers sal poog om die besluit om te keer.

Serwië se president het intussen na Australië gekap vir die behandeling wat Djokovic ontvang het.

Pres. Aleksandar Vucic het op Instagram gesê hy het telefonies met Djokovic gepraat en vir hom gesê dat “die hele Serwië agter hom staan en dat die owerhede alle maatreëls tref om die mishandeling van die wêreld se beste tennisspeler so gou moontlik te beëindig”.

“In ooreenstemming met alle standaarde van internasionale publiekreg sal Serwië veg vir Novak Djokovic, vir geregtigheid en vir die waarheid.”

Djokovic se pa, Srdjan Djokovic, het intussen gesê sy seun is vyf uur lank “gevangene gehou” by die Melbourne-lughawe.

Scott Morrison, Australië se premier, het gesê die land se streng grensbeleid is van kritieke belang om sterftesyfers laag te hou.

“Reëls is reëls, veral as dit by ons grense kom,” het hy gesê. “Niemand is bo hierdie reëls verhewe nie.”

Karen Andrews, minister van binnelandse sake, het gesê die regering sal “geen verskoning” maak vir die beskerming van sy grense nie.

“Individue wat nie aan ons streng vereistes voldoen nie, sal toegang tot Australië geweier word, dit maak nie saak wie hulle is nie,” het sy in ’n verklaring gesê.

Alle deelnemers aan die eerste Grand Slam van 2022, wat op 17 Januarie begin, moet teen Covid-19 ingeënt word of mediese vrystelling hê, wat slegs toegestaan word na beoordeling deur twee panele van onafhanklike kundiges.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

63 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tubac

Goed so. Almal word onder dieselfde kam geskeer. Het te groot vir sy skoene geword. Geld koop nie klas nie en beroemdheid maak jou nie dat jy ander se wette wil vryspring nie. Het geen gevoel vir die ander spelers wat aan die reels moet voldoen nie. Ek hoop ander lande volg hulle voorbeeld.

Hendrik

Vrees is ‘n verskriklike ding.

KB

Australië is in patetiese hande. Die regering se inperkings-reëls, die toepassing daarvan, en die resultate daarvan grens aan kinderagtigheid.
As ek Djokovic was, het ek die Australiese Ope, uit die staanspoor, ʼn mis gegee.

Daniel

Belaglik! Kan dit nie glo

Treurwilger

Skandelik, skaamteloos en onbeholpe politieke speletjies tussen staat- en federale-regering met die professionele loopbaan van die wêreld se no. 1 tennisspeler.
Om nie eers te praat van die breë publiek se leedvermakerige, hatige houding om dieselfde belaglike, onderdrukkende reëls waaronder hulle deurloop, op Novak van toepassing te maak.
En dit alles terwyl gevaksineerdes net so jolig Covid kry en versprei as die ‘melaatses’.
Ek het die laaste greintjie respek vir die Aussies verloor.

Lees “Novak the unlikely hostage in petty political saga” op die ABC-webblad , as enigeen wil verskil.