
‘n Argieffoto van een van die Amerikaanse weermag se Osprey-tuie. (Foto: US Marine Corps/Amy Phan/AFP)
Drie Amerikaanse mariniers (seesoldate) is Sondag dood ná ʼn Osprey tydens krygsoefeninge op ʼn afgeleë eiland noord van Australië neergestort het, het die Amerikaanse weermag bevestig.
Vyf mariniers is op die ongelukstoneel gered en in ʼn “ernstige toestand” na ʼn hospitaal in Darwin gevlieg, het Amerikaanse staatsamptenare gesê. Die Australiese polisie sê die res van die beseerde bemanningslede word op die ongelukstoneel behandel.
“Daar was altesame 23 personeellede aan boord,” lui ʼn verklaring van die Amerikaanse weermag.
“Die dood van drie is bevestig, terwyl vyf ander in ʼn ernstige toestand na die Royal Darwin-hospitaal vir behandeling geneem is.”
Die ligging van die ongelukstoneel – die afgeleë en yl bevolkte Melville-eiland sowat 60 km noord van die Australiese vasteland – het reddingspogings bemoeilik.
“Die reddingsoperasie duur voort,” het Amerikaanse amptenare gesê. ʼn Ondersoek na die rede vir die ongeluk is reeds van stapel gestuur.
Premier Anthony Albanese het die ongeluk as “tragies” en “betreurenswaardig” bestempel en benadruk dat die owerhede steeds probeer uitpluis presies wat gebeur het.
“Ons wil verseker dat alle inligting wat deurgegee word, heeltemal akkuraat is,” het hy aan verslaggewers gesê.
Die Osprey – ʼn kombinasie tussen ʼn helikopter en ʼn vliegtuig – het deelgeneem aan die Predator Run-oefeninge, ʼn gesamentlike reeks krygsoefeninge waarby duisende Amerikaanse en Australiese soldate betrokke is, asook weermagte van lande soos Indonesië en die Filippyne.
Noord-Australië het die afgelope ruk ʼn al hoe belangriker gebied vir die Amerikaanse weermag geword, terwyl Washington en Canberra saamwerk om China se groeiende aansien in die Asië-Pasifiese streek teen te werk.
Troebel geskiedenis

‘n Care Flight-helikopter op die aanloopbaan van die Darwin-lughawe in Australië. Reddingsoperasies na die ongeluk in die afgeleë gebied duur voort. (Foto: David Gray/AFP)
Die Osprey het ʼn troebel geskiedenis en daar was die afgelope paar jaar verskeie dodelike ongelukke met die tuig.
Vier Amerikaanse mariniers is verlede jaar in Noorweë dood toe hul V-22B-Osprey tydens ʼn Navo-oefening neergestort het.
In 2017 is drie mariniers dood toe ʼn Osprey neergestort het nadat dit die agterkant van ʼn vragskip getref het terwyl dit op see naby Australië se noordkus probeer land het.
En in 2000 is 19 mariniers dood toe hul Osprey tydens oefeninge in Arizona neergestort het.
Die Amerikaanse leër het vroeër vanjaar alle vlieëniers wat nie by kritieke sendings betrokke was nie, gehok en gedwing om verdere opleiding te ondergaan ná ʼn vlaag veiligheidsvoorvalle.
Die hibriedetuig het twee draaiskyfenjins op vaste vlerke wat dit toelaat om vertikaal te land en op te styg. Dit vlieg ook veel vinniger as ʼn konvensionele helikopter.
Sondag se voorval volg op ʼn dodelike opleidingsoefening verlede maand: vier Australiërs is dood toe hul Taipan-helikopter in die see gestort het tydens multinasionale krygsoefeninge in Queensland.
Die oefening het 30 000 weermaglede van Australië, die VSA en verskeie ander lande betrek.
Die helikopter het naby die Whitsunday-eilande tydens ʼn nagoefening neergestort.