Drie dood, agt beseer tydens skietery by skool

Ouers, leerders is in skok ná die skietvoorvalw wat hul wêreld omvergegooi het (Foto: Jeff Kowalsky, AFP)

’n 15-jarige leerder het Dinsdag by sy hoërskool in Michigan, VSA, met ’n vuurwapen opgedaag en op mense begin losbrand. Hy het drie van sy medeleerders doodgeskiet en agt ander mense, onder wie een onderwyser, gewond voordat hy hom aan die polisie oorgegee het. Dit word as die dodelikste skietery tot dusver vanjaar in dié land beskou.

Volgens inligting het die leerder tussen 15 en 20 skote in sowat vyf minute afgevuur. Hy het die aanval blykbaar alleen uitgevoer.

Die skietery het kort voor 13:00 (Amerikaanse tyd) by Oxford High School in Michigan plaasgevind.

Volgens die sheriff se kantoor is die oorledenes ʼn 16-jarige manlike leerder, ʼn 14-jarige vroulike leerder en ʼn 17-jarige vroulike leerder.

Van die gewondes is ses tans in ʼn stabiele toestand terwyl twee noodoperasies moes ondergaan.

Die skieter is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op ʼn semi-outomatiese handwapen. Die motief agter die skietery is in hierdie stadium nog nie bekend nie. Dit is ook nie duidelik of die slagoffers spesifiek geteiken is nie.

Volgens die sheriff  se kantoor het die leerder tydens sy inhegtenisneming geen weerstand gebied nie. Hy het vir ʼn prokureur gevra, maar geen verklarings oor ʼn motief gemaak nie.

“Dit is ʼn baie tragiese situasie. Die ouers is hewig ontsteld,” het ondersheriff, Michael McCabe, gesê.

Volgens McCabe het die polisie meer as 100 noodoproepe kort ná die voorval ontvang. Die verdagte is binne vyf minute ná die eerste noodoproep in hegtenis geneem.

Volgens McCabe was die polisie in kontak met die skieter se ouers en is hul huis deursoek. Hulle het ook die toneel by die skool gefynkam en leerders oor die voorval ondervra.

’n Groot skok

Pres. Joe Biden is tydens ʼn besoek aan Minnesota omtrent die skietery ingelig.

“My hart gaan uit na die families wat die ondenkbare hartseer verduur om ʼn geliefde te verloor,” het hy gesê.

“Die hele gemeenskap is nou in ʼn toestand van skok.

“Ek dink só iets is enige ouer se ergste nagmerrie,” het Gretchen Whitmer, goewerneur van Michigan, gesê.

’n Unieke Amerikaanse probleem

Volgens Everytown For Gun Safety, ʼn groep wat statistieke bekendgemaak het oor die massaskietvoorvalle by skole in die VSA, is hierdie die dodelikste skoolskietery tot dusver vanjaar.

Volgens die statistieke was daar vanjaar voor Dinsdag se voorval altesaam 138 skietvoorvalle in skole regoor die VSA. Altesaam 26 mense is in dié voorvalle dood.

Volgens Whitmer is massa-skietvoorvalle ʼn unieke Amerikaanse probleem wat aandag moet kry.

Die dodelikste skoolskietvoorvalle in die Amerikaanse geskiedenis was die April 2007-aanval by Virginia Tech in Blacksburg, Virginia, toe 33 dood is, onder wie die aanvaller. Dié voorval word gevolg deur ’n aanval in Desember 2012l by die Sandy Hook-laerskool in Newtown, Connecticut, toe 28 mense doodgeskiet is, onder wie 20 kinders en die skieter.

In Februarie 2018 het ʼn man met ʼn AR-15-aanvalsgeweer in sy voormalige hoërskool in Parkland, Florida, losgebrand en 17 mense doodgeskiet.

Shannon Watts, die stigter van die groep Moms Demand Action, het gevra vir meer optrede om vuurwapens te beheer. Sy het gesê daar is 400 miljoen gewere wat deur burgerlikes regoor die land besit word.

“As meer gewere ons veiliger gemaak het, sou ons die veiligste nasie ter wêreld gewees het,” het Watts op Twitter geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

ES ·

Ek is self ‘n vuurwapeneienaar en ek dink dit is te maklik om op 18 ‘n vuurwapeneienaar te word en daar is glad nie ‘n minimum ouderdom vir lang gewere in Amerika nie.

Dit kan nie toegelaat word nie – dis ‘n baie groot verantwoordelikheid om ‘n vuurwapen te besit. Amerika se vuurwapenwette moet strenger toegepas word. In Suid Afrika is die wettige ouderdom vir vuurwapenbesit 21 en dit kan tot 3 jaar vat om ‘n lisensie te kry (meerendeels a.g.v. ons swak stelsel by die sentrale vuurwapenregister).

VaalDonkie ·

ES, die Amerikaners moet almal deur ‘n agtergrond-snuffeling gaan voordat hulle ‘n geweer mag koop. Dis basies net soos ons bevoegdheid wat ons moet doen voor ons vir ‘n lisensie mag aansoek doen. Al verskil is hulle het ‘n IT stelsel wat dadelik kan antwoord, waar ons s’n nog deur pen-en-papier gedoen moet word en tot 3 maande+ kan neem. Maar jy kannie sommer net iewers instap en uitstap met ‘n geweer nie. Nie eens in Texas of Kentucky nie.

Dewald ·

Absoluut tragies. Sulke gevalle bring altyd die debat oor vuurwapen beheer in Amerika na vore (wat ‘n belangrike debat is), maar ek wonder altyd wat is die groter motief in meeste van die gevalle? Ek kan nie ophou dink (seker spekuleer) dat dit ‘n probleem is met kinders wat afgeknou, geboelie of geisoleer word deur ander kinders, wat lei tot verwerping, depressie en uiteindelik dade met tragiese gevolge nie.

Ek praat dit glad nie goed nie, maar is dit moontlik die kern van die probleem wat aangespreek moet word?

Pieter9 ·

Wapens is nie die oorsaak nie-een van die drywers vir hierdie probleem is die oormatige of absolute individuele reg. Oordrewe in demokrasie soos VSA. My reg, my siening geld…en ek het die reg om dit te beskerm of af te dwing ongeag die wyse hoe. Geen stelsel gee ‘n mens onbegrensde reg nie. Tweedens, veral mbt tieners, het die bisare bevrediging van die omvattende media dekking- kry dan al die aandag wat hy/sy voel hy/sy geregtig is op. Dit is’ n komplekse situasie maar ‘n simptoom van ‘ n samelewing in verval… Waar almal groot word sonder discipline, en reels sien as inbraak op my regte.

Swerwer ·

Ek stem. Daar is nie meer dissipline en respek nie, want dit is wêreldwyd weggeneem en die kinders regeer en skryf voor. En ongelukkig is dit te danke aan die hedendaagse generasie.

Vernon ·

Gaan seker nou weer hoor hy is geboelie op skool of een of ander belaglike rede. Na my mening is dit omdat sommige kinders nie die liberale Amerikaanse leefwyse kan hanteer nie. Mag mos nie meer hulle tugtig nie. Als word reggepraat en besiel met sielkundiges.

Dewald ·

Ek dink nie ” ‘n goeie pakslae” is die antwoord nie. Daar is tragiese artikels in Suid-Afrika oor kinders wat selfmoord pleeg kort na sulke boelie insidente, ons moenie die sielkudige effek wat dit op ‘n jong, brose kind kan he, onderskat nie.

Jean ·

Kom ons kyk wat doen Biden nou, want die dems het altyd baie vir Trump gesê as so iets gebeur het

Toy ·

Die mens agter die vuurwapen is die gevaarlikste wapen, hy/sy het al die mag dan.

Belinda ·

Lyk my hul het geen “gun-control” oorsee nie. Daar is gereeld sulke gevalle by Amerikaanse skole

Danie ·

Niks met gun control te doen nie, hy kon mense met n mes ook gesteek het. Bose mense is die probleem, nie die instrumente waarmee hul hul bose dade uitvoer nie.

Willem ·

Aanvalsgewere en outomatiese vuurwapens behoort gladnie vir die algemene publiek beskikbaar te wees nie. Jaggewere, skyfskiet gewere en handwapens vir selfverdediging is verstaanbaar maar aanvalsgewere en outomatiese vuurwapens behoort uitsluitlik vir staatsinstansies soos die weermag, polisie, korrektiewe dienste ens beskikbaar te wees. Vuurwapen wetgewing is tans deel van die onderskeie deelstate se domein wat beteken dat elke deelstaat sy eie vuurwapen wetgewing uitbring terwyl dit eintlik onder die federale regering se gesag behoort te val sodat daar een vuurwapen wet vir al 50 state kan wees.

Keelvol ·

Jamestown -1979, n 1000 mense is dood. Geen vuurwapens is in daardie geval gebruik nie.

VaalDonkie ·

Die goed gebeur nie sommer in Texas, Kentucky, Alabama, of een van die ander “redneck” state nie. Is altyd daar waar die demokrate in beheer is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.