Drie dood, talle beseer in Tsjeggië-treinongeluk

Polisiebeamptes en brandbestryders op die ongelukstoneel naby Milavce tussen die Domazlice- en Blizejovn-stasies in die Tsjeggiese Republiek (4 Augustus 2021) (Foto; Michal Cizek/AFP)

Minstens drie persone is Woensdag dood en talle beseer toe twee treine in ʼn dorp in die weste van die Tsjeggiese Republiek gebots het.

Die München-na-Praag-trein nommer Ex 351 van die Duitse maatskappy Die Laenderbahn, het omstreeks 08:00 met ʼn aankomende streekstrein gebots tussen Plzen en Domazlice.

Reddingsbeamptes sê twee van die persone wat gesterf het, was Tsjeggiese treindrywers. Een van hulle het die Duitse trein bestuur. Die derde slagoffer was ʼn vroulike passasier op die streekstrein.

Verskeie uitlanders het in die Duitse trein gery en sommige van hulle het beserings opgedoen, het plaaslike media berig.

Die nasionale spoorwegoperateur Sprava zeleznic het op Twitter gesê alle passasiers is uit die treine ontruim.

Die nasionale polisie het bevestig nie een van die passasiers word vermis nie en bygevoeg die ongeluk het by Milavce plaasgevind.

Reddingsbeamptes het vroeër gesê 31 mense het geringe tot matige beserings opgedoen en sewe ander het kritieke beserings opgedoen.

Beeldmateriaal deur die Tsjeggiese openbare uitsaaier het gewys dat een deel van die Duitse trein heeltemal verwoes is, alhoewel albei treine regop bly staan het.

Die Laenderbahn het in ʼn verklaring gesê die bestuur van die trein in Tsjeggië is die verantwoordelikheid van die CD, die Ceske drahy-spoorwegmaatskappy.

Karel Havlicek, minister van vervoer in Tsjeggië, het gesê “die Ex 351 het ʼn sinjaal verontagsaam en ʼn streekstrein getref”. “Dit is ʼn ernstige situasie,” het hy gesê op pad na die ongelukstoneel.

Tsjeggië se eerste minister, Andrej Babis, het op Twitter sy “innige meegevoel” met die families van die oorledenes betuig. “Dit is belangrik om mense se lewens te red. Alles moet ondersoek word.”

Vier helikopters, verskeie ambulanse en talle reddingswerkers is na die toneel ontplooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Konrad1226 ·

Hierdie word bestempel as wêreld nuus. ‘n Plaaslike bus of taxi ongeluk met drie maal die sterftes haal skaars deesdae die nuus by ons in Suid-Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.