Drie dood, talle beseer toe trein in VSA ontspoor

Bykans 160 mense was aan boord toe agt treinwaens skielik van die spoor af beweeg het. (Foto: Twitter / @NewsbyMichelle)

Drie mense is dood en meer as 50 beseer toe ʼn trein Saterdag in die noorde van die Amerikaanse deelstaat Montana ontspoor het.

Minstens 141 passasiers en 16 bemanningslede was omstreeks 16:00 van Chicago na die Pasifiese kus onderweg toe agt van 10 treinwaens ontspoor het.

Die voorval het in ʼn afgeleë gebied naby Joplin, ʼn klein dorpie met ʼn bevolking van net 200 mense, plaasgevind.

Dit is nie in dié stadium duidelik wat die ontsporing veroorsaak het nie.

Bill Flynn, uitvoerende hoof van die Amerikaanse spoorweë, Amtrak, het die departement se volle samewerking in die ondersoek na die voorval verseker, maar gesê hulle kan nie verder kommentaar oor die ongeluk lewer alvorens die ondersoek afgehandel is nie.

“Daar is geen woorde om ons smart en meegevoel aan dié wat ʼn geliefde verloor het of tydens die aaklige voorval beseer is, volkome te beskryf nie.”

Bykans 160 mense was aan boord toe agt treinwaens skielik van die spoor af beweeg het. (Foto: Twitter / @NewsbyMichelle)

Die ongeluk het Saterdag ook talle ander pendelaars gestrand gelaat aangesien talle treine tussen Noord-Dakota en Montana nie van die roete kon gebruik maak nie. AFP berig die spoorweë is glo geweldig onderbefonds, met verskeie noodlottige ongelukke wat oor die afgelope paar jaar plaasgevind het.

Twee mense is in 2018 in Suid-Carolina dood toe ʼn Amtrak-trein op die verkeerde spoor gery en teen ʼn stilstaande goederetrein gebots het.

Die ongeluk is later op veiligheidsflaters blameer.

In 2017 het nóg ʼn Amtrak-passasierstrein in Washington ontspoor toe dit vir die eerste keer op ʼn nuwe roete gery het.

Minstens drie mense is tydens dié ongeluk dood toe treinwaens van ʼn brug op ʼn besige snelweg beland het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.