Drie ekonome raap gesogte prys op

Guido Imbens en Joshua Angrist deel vanjaar se Nobelprys vir ekonomiese wetenskappe met David Card. (Foto: AFP)

Drie ekonome is Maandag aangewys as die wenners van die Nobelprys vir ekonomiese wetenskappe vir hul baanbrekerswerk om antwoorde op ingewikkelde vrae uit eenvoudige, alledaagse waarnemings te vind.

Anders as op mediese gebied of in ander wetenskappe, kan ekonome nie streng beheerde kliniese toetse uitvoer nie. Natuurlike eksperimente gebruik werklike situasies om die uitwerking op die wêreld te bestudeer, ’n benadering wat ook na ander sosiale wetenskappe oorgespoel het.

Vanjaar se eerste ontvanger van die gesogte prys, David Card, is deur die Sweedse Akademie vereer vir sy werk oor minimumlone, immigrasie en opvoeding. Volgens die Akademie het Card die teorie die nek ingeslaan dat ’n verhoging in minimumlone tot minder werkgeleenthede lei.

Die “ander helfte” van die prys is toegeken aan Joshua Angrist en Guido Imbens wat bewys het dat akkurate ekonomiese gevolgtrekkings oor oorsaak en gevolg uit natuurlike eksperimente gemaak kan word.

Luidens ’n verklaring deur Peter Fredriksson, voorsitter van die Akademie se komitee vir ekonomiese wetenskappe, is Card se bevindings en Angrist en Imbens se metodologiese bydraes oor die ryk kennisskat van natuurlike eksperimente van groot waarde. “Die samelewing sal noemenswaardig baat vind by die antwoorde wat hul werk bied,” het hy gesê.

Card, ’n boorling van Guelph in Kanada, is ’n professor aan die Universiteit van Kalifornië, Berkeley. Angrist is ’n professor aan die Massachusetts Institute of Technology, terwyl Imbens, wat in Eindhoven in Nederland gebore is, ’n professorskap aan die Stanford Universiteit in Kalifornië beklee.

Die gesogte Nobelprys vir prestasies in wetenskap, letterkunde en vrede is tot stand gebring en gefinansier deur die boedel van die Sweedse dinamietuitvinder en welgestelde sakeman Alfred Nobel en word sedert 1901 toegeken.

Die ekonomieprys, wat amptelik bekend staan as die Sveriges Riksbank-prys in ekonomiese wetenskappe, is nie deur Alfred Nobel ingestel nie, maar deur die Sweedse sentrale bank, en word toegeken ter nagedagtenis aan Nobel. Dit is in die bank se 300ste bestaansjaar geskep en word sedert 1969 toegeken.

Card ontvang die helfte van die $1,1 miljoen-prysgeld (sowat R16,5 miljoen), terwyl die res tussen Angrist en Imbens verdeel word.

  • Kyk hier na die aankondiging van die wenners en lees meer oor die drie se baanbrekerswerk hier.

Ander Nobelpryswenners vanjaar

  • Die Nobelprys vir Vrede is vroeër vandeesmaand toegeken aan die joernaliste Maria Ressa van die Filippyne en die Rus Dmitri Moeratof vir hul dapper stryd om vryheid van spraak in hul lande van herkoms te bevorder.
  • Die letterkundeprys is aan Abdulrazak Gurnah van Tanzanië toegeken. Dié 73-jarige skrywer van tien romans het groot lof ontvang vir sy “onversetlike en deernisvolle deurprieming van die uitwerking van kolonialisme. Sy toewyding aan die waarheid en afkeer van vereenvoudiging is treffend,” het die pryskomitee gesê.
  • Die Nobelprys vir chemie word gedeel deur Benjamin List van Duitsland en die Skot David MacMillan vir die ontwikkeling van nuwe metodes om molekules te bou wat help om nuwe medisyne te ontwikkel wat meer omgewingsvriendelik is.
  • Die prys vir mediese baanbrekerswerk is aan twee Amerikaanse wetenskaplikes toegeken. David Julius en Ardem Patapoutian het reseptors in die menslike vel geïdentifiseer wat temperatuur en hitte registreer, wat die weg baan vir die ontwikkeling van nuwe pynstillers.

Suid-Afrika se wenners

Suid-Afrika spog met vier wenners van die Nobelprys vir Vrede: Albert Luthuli (1961), emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu (1984) en oudpresidente FW de Klerk en Nelson Mandela (1993). Ander Suid-Afrikaans gebore wenners sluit in

  • Max Theiler (1951) – medisyne;
  • Alan M. Cormack (1979) – medisyne;
  • Aaron Klug (1982) – chemie;
  • Nadine Gordimer (1991) – letterkunde;
  • Sydney Brenner (2002) – medisyne; en
  • JM Coetzee (2003) – letterkunde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henri ·

“Volgens die Akademie het Card die teorie die nek ingeslaan dat ’n verhoging in minimumlone tot minder werkgeleenthede lei.”

Sluit sy navorsing in Suider Afrika in of verstaan ek dat werkgeleenthede konstant bly, maar die ekonomiese bekostigbaarheid moontlik mag krimp?

Soos ek die Nobel-pryse sien, speel politiek ‘n groot rol. Anders het Dr Christiaan Barnard verseker ‘n Nobel-prys gewen. My opinie.

P.S. JM Coetzee het die Nobel prys vir Letterkunde gewen. Nie vir Medisyne nie.

VaalDonkie ·

Barack Obama het die Nobelprys vir vrede gewen VOOR hy nog ‘n vingertjie gelig het. Ek neem die goed nie meer ernstig op nie.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Henri

Baie dankie dat jy laat weet het van JM Coetzee se Nobelprys. Die berig is gewysig en behoort nou reg te vertoon.

Groetnis,
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Zilla ·

Ai, my dyslexia is vandag weer op sy stukke. Wat is die woord “minimumlone”? Al wat ek kan uitmaak is die eerste letter ‘m’

Wielspore ·

As daar Nobel pryse was vir bedrog, diefstal, omkoop, geldwassery, moord, kapings en ander misdade teenoor mense, sou SA al die afdelings met lof gewen het. Die ANC sou ere erkenning gekry as die dryf veer daar agter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.