Drie gyselaars ‘verkeerdelik’ in Gaza doodgeskiet

Die skietvoorval het wydverspreide betogings in Tel Aviv ontketen. (Foto: Ahmad Gharabli/AFP)

Israel se weermag sê sy troepe het vandeesweek drie gyselaars wat in Gaza aangehou is, verkeerdelik doodgemaak nadat hulle as ʼn bedreiging beskou is.

Die land se weermag het sy “diep berou” oor die “tragiese voorval” uitgespreek.

Die voorval het intussen wydverspreide betogings in Tel Aviv ontketen.

Volgens Israel se weermag is die gyselaars Yotam Haim, Alon Shamriz en Samer El-Talalqa tydens ʼn operasie in ʼn woonbuurt van Gaza doodgeskiet.

Die trio was onder diegene wat in Oktober deur die militante groep Hamas uit Israel ontvoer is.

Benjamin Netanyahu, eerste minister van Israel, het die dood van die drie gyselaars as ʼn “ondraaglike tragedie” beskryf, terwyl die VSA die voorval as ʼn “tragiese fout” bestempel het. Die voorval word nou ondersoek.

Namate die nuus van die voorval versprei het, het honderde mense in protes by Israel se ministerie van verdediging in die stad Tel Aviv saamgedrom.

Die betogers het Israeliese vlae en plakkate omhoog gehou, terwyl foto’s van die 129 gyselaars wat steeds in Gaza aangehou word, rondgeswaai is.

“Elke dag sterf nog ʼn gyselaar,” het een van die plakkate gelui.

In Tel Aviv het familielede van gyselaars ʼn beroep op die regering gedoen om ʼn ooreenkoms met Hamas te bereik sodat meer mense bevry kan word.

“Ek vergaan van vrees,” het Merav Svirsky, suster van die gyselaar Itay Svirsky, gesê. “Ons eis nou ʼn ooreenkoms om die gevegte stop te sit.”

In November het ʼn kortstondige wapenstilstand, wat deur Katar, Egipte en die VSA bemiddel is, daartoe gelei dat meer as 100 gyselaars bevry is in ruil vir Palestyne wat in Israeliese tronke aangehou is.

Die nuusplatform Axios het Vrydag berig dat David Barnea, direkteur van die Israeliese intelligensie-agentskap Mossad, hierdie naweek in Europa met Katar se eerste minister, sjeik Mohammed bin Abdulrahman Al Thani, sou vergader.

Axios het gesê die amptenare sal die hervatting van onderhandelinge bespreek sodat ʼn ooreenkoms aangegaan kan word om die vrylating van die oorblywende gyselaars te verseker.

In die Gaza-strook het hewige gevegte voortgeduur, met Hamas wat beweer dat hy ʼn huis met Israeliese soldate in die suidelike stad Khan Yunis opgeblaas het.

Nuuskanaal Al Jazeera het gesê dat een van sy joernaliste, Samer Abudaqa, dood is en ʼn ander, Wael Dahdouh, deur “skrapnel van ʼn Israeliese missielaanval” in Khan Yunis gewond is.

Meer as 60 joernaliste en mediapersoneel is dood sedert die konflik tussen Israel en Hamas in Oktober begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.