Drie kinders dood in leeuaanval in Tanzanië

Argieffoto (Foto: Michael Siebert/Pixabay)

Leeus het drie jong kinders naby Tanzanië se wêreldbekende Ngorongoro-reservaat doodgemaak toe die kinders na verlore vee op soek was, het die polisie Donderdag gesê.

Die kinders, tussen nege en 11 jaar oud, het Maandag van die skool af by die huis aangekom en toe in ʼn woud naby die reservaat na die vermiste diere gaan soek, het Arusha-polisiehoof Justine Masejo gesê.

“Dit is toe die leeus hulle aangeval en drie kinders doodgemaak het. ʼn Vierde kind is beseer in die aanval,” het hy bygevoeg.

Ngorongoro in die noorde van Tanzanië is ʼn wêrelderfenisgebied wat groot katte soos leeus, jagluiperds en luiperds huisves.

“Ons doen ʼn beroep op die nomadiese gemeenskappe naby die bewaringsgebiede om voorsorg te tref teen roofdiere – veral wanneer hulle kinders opdrag gee om na vee om te sien. Dit sal die kinders en hul gesinne beskerm,” het Masejo bygevoeg.

Tanzanië laat sommige gemeenskappe, soos die Masai, toe om in nasionale parke te woon. Hulle kom egter gereeld in kontak met diere soos leeus en olifante wat mense en vee kan aanval en lande kan verwoes.

Die land het verlede jaar 36 leeus van die Serengeti- nasionale park geskuif ná aanvalle op mense en vee van omliggende gemeenskappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.