Drie state wat vroeg reeds die wenner kan uitwys

Vir die grootste deel van 2012 was daar redelike konsensus onder politieke kommentators in die VSA dat Barack Obama, ten spyte van ‘n ongewilde rekord, in ‘n sterker posisie as Mitt Romney was en dus die effense gunsteling was om die verkiesing te wen. Dit alles het op 3 Oktober verander met Mitt Romney se uitstekende vertoning in die eerste debat.

‘n Peiling van ABC-nuus wys gister dat Amerikaners voel dat Romney die eerste debat loshande gewen het, terwyl Obama die tweede en derde debatte naelskraap gewen het. ‘n Ontleding van die peiling wys egter op die belangrikheid van ‘n goeie prestasie in die eerste debat. Vir baie Amerikaners was Romney nog redelik onbekend teen 3 Oktober. Baie Amerikaners begin gewoonlik ook eers teen die eerste debat werklik in die verkiesingstryd belang te stel. Romney se goeie prestasie op 3 Oktober het hom dus die kans gegee om homself nuut aan kiesers bekend te stel. Die ABC-peiling wys duidelik dat Amerikaners voel dat hoewel Obama in die debatte goed oorgekom het hulle in die algemeen verras was met Romney se vertoning.

Dit is dan ook daardie verrassing wat die speelveld heelwat meer gelyk gemaak het dat ons vandag, met slegs 12 dae oor voor die verkiesing ‘n gelykopstryd ervaar. Daar is geen rede om te dink dat enigiets tussen nou en 6 November die stryd werklik in die guns van een van die twee kandidate kan swaai nie. Die fokus verskuif dus nou na die kandidate se vermoë om kiesers vroeë stemme te laat uitbring (byna 5 miljoen Amerikaners het reeds gaan stem!), die veldtogte se grondvlakorganisering op verkiesingsdag en watter tendense die uitslag van die verkiesing sal bepaal.

Hier is drie state waar die eerste uitslae op die oggend van 7 November dopgehou kan word om te weet wie as wenner aangewys gaan word:

1. Virginië
Drie van die state wie se uitslae baie vinnig bekend sal wees is Virginië, New Hampshire en Indiana. Romney moet minstens Virginië en Indiana wen om enigsens ‘n kans te staan om die verkiesing te wen. In Virginië sal mens nog voordat die staat se uitslae alles bekend is ‘n goeie aanduiding kan kry van die stempersentasie onder swart kiesers. Obama moet weer ‘n hoë stempersentasie onder swart kiesers kry om die verkiesing te wen. Die stempersentasie van swart kiesers in Virginië (areas rondom Richmond en dele van Alexandria in die noorde) sal waarskynlik baie dieselfde wees as in belangrike ander state soos Florida en Ohio. Nog ‘n belangrike tendens wat binne ‘n uur of twee nadat stembusse gesluit het in Virginië bekend sal wees is die houding van voorstedelike middel tot hoër-middelklas kieses en veral getroude vroue. Obama het in 2008 groot vordering in hierdie tradisioneel Republeinse stemblok gemaak en Romney sal in die voorstede van Virginië moet wen. Vroeë aanduidings van sterk steun vir Romney in die voorstede van Virginië sal ook ‘n goeie teken van groter steun vir hom in state soos Florida, Wisconsin en selfs Ohio wees.

2. Eerste uitslae in New Hampshire
In 2008 het Barack Obama reg oor die VSA ‘n groot swaai van fiskale-konserwatiewe kiesers na sy kant toe ervaar. Dit was dus ook geen wonder dat New Hampshire een van die state was waar daar van 2004 tot 2008 die grootste swaai weg van die Republikeine plaasgevind het nie. John McCain se veldtog het in 2008 heelwat op sosiale kwessies (aborsies, gay-huwelike, ens) gefokus en dit het fiskale-konserwatiewe kiesers wat meer liberale sosiale standpunte aanhang van die Republikeinse Party vervreem. Mitt Romney het hierdie tendens reeds vroeg in sy veldtog geïdentifiseer en sover slegs op ekonomiese sake probeer fokus. Die afgelope twee of drie dae was daar egter baie berigte in die nuus oor sosiaal-konserwatiewe uitsprake van Republikeinse kandidate vir die senaat en of dit ‘n effek op Romney gaan hê sal binne ‘n uur of wat nadat stembusse in New Hampshire gesluit het, reeds duidelik wees. Romney het ook hierdie soort stemme in die noorde van Virginië, in groot dele van Wisconsin en die suidelike dele van Florida nodig.

3. Eerste uitslae in Indiana
Romney moet en behoort Indiana te wen. In 2008 het Obama verras deur Indiana net-net te wen, veral weens ‘n geweldige hoë stempersentasie onder swart kiesers in die noord-weste van Indiana (aangrensend aan Chicago). Indiana het ook groot nywerhede in die noorde van die staat en die vraag of wit bloukraagwerkers na die Republikeinse Party sal terugswaai sal vroeg reeds hier bekend wees. Die uitslag in Indiana sal ‘n goeie aanduidelik gee van wat in Ohio te wagte kan wees waar wit bloukraagwerkers en die stempersentasie onder swart kiesers grootliks die uitslag sal bepaal.

So vir dié van ons wat op 7 November reeds 02:00 voor die kassie gaan sit behoort die uitslag indien jy Amerika goed ken en veral bogenoemde drie riglyne volg, binne twee tot drie ure bekend te wees. Die arme miljoene kiesers aan die Amerikaanse weskus sal nog besig wees om te stem wanneer die uitslag, hoewel nie amptelik nie, reeds bekend kan wees! Indien die verskil in stemme tussen Obama en Romney in state soos Ohio, Florida en Virginië baie klein is mag dit egter dae neem om die finale uitslag te kry soos wat stemme oorgetel word. Ons hoop almal vir ‘n vinnige uitslag.

Klik hier om die vorige artikel te lees.
Klik hier om alle vorige artikels te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.