Drie mense is dood en nog vier beseer toe ʼn ligte passasiersvliegtuig Sondag in ʼn stilstaande helikopter ingeploeg het tydens opstyging by ʼn lughawe naby berg Everest in Nepal.
Die ongeluk het gebeur toe die vliegtuig, wat aan Summit Air behoort, by die Tenzing-Hillary-lughawe by Lukla opgestyg het op pad na Katmandoe. Raj Kumar Chhetri, ʼn lugvaartbeampte, het gesê die vliegtuig het van die aanloopbaan af gegly en ʼn helikopter van Manang Air getref.
Summit Air sowel as Manang Air is private lugrederye wat toeriste en Nepalese in die land se afgeleë gebiede bedien.
Die beseerdes is per helikopter na Katmandoe geneem, het Uttam Raj Subedi, ʼn polisiewoordvoerder van Nepal, gesê. Die oorledenes sluit in die vlieënier van die vliegtuig en twee polisiebeamptes wat naby die stilstaande helikopter gestaan het.
Narendra Kumar Rana, ʼn burgerlike administrateur, het gesê die vier passasiers en vlugkelner wat op die vliegtuig was is ongedeerd.
Tydens die ongeluk is dienste by die lughawe, wat dien as die poort na berg Everest, opgeskort.
Daar word dikwels na die lughawe as die wêreld se gevaarlikste verwys weens die kort aanloopbaan en moeilike toegang. Die lughawe, op ʼn hoogte van 2 845 m, kan slegs deur helikopters en klein vliegtuie gebruik word.
In Mei 2017 is twee vlieëniers dood toe ʼn vragvliegtuig besig was om te land en op die berg onder die aanloopbaan neergestort het. Swak sig is as rede vir die ongeluk aangegee.
In Februarie het ʼn helikopter in ʼn berg in die noordooste van Nepal vasgevlieg, wat die lewe van al sewe mense aan boord, insluitend die land se minister van toerisme, geëis het.
‘n bekommerde vraag: hoe GLY ‘n vliegtuig van ‘n aanloopbaan af, waarvoor is die rigting roer dan aan die vliegtuig
Dwarswinde.
Meganiese probleme.
Kort aanloopbaan.
Pilot error. = moeiikheid